News

Liewe Vader Krismis

Liewe Vader Krismis

Moet asseblief vir niemand sê ek het vir jou geskryf nie, want daar is mense wat kwaad word as hulle hoor van jou en die Paashaas en die Tooth Fairy.

Jy verstaan mos Afrikaans, nê? Ek hoop so, anders het ek ‘n paar briewe in my kinderdae verniet geskryf. Op die Teewie praat jy net Amerikaans. As jy nie die brief kan verstaan nie, probeer Google Translate. Hulle verstaan ook nie, maar hulle probeer darem.
Vader Krismis, jou suurstof-dief-naamlys is seker baie lank die jaar. Veral in hierdie land met almal wat so korrupeer terwyl ander krepeer. Vader Krismis, is jy ook magsbehep? Seker nie, anders was jy Generaal Krismis en het jy met ‘n trop buffels alles platgetrap en nie met bokke oral gevlieg nie.
Ai, laat dit my nou verlang na die Springbokke in die Groen en Goud wat mos so wedstryde kon wen en bekers kon kry. Maar, dis nou ‘n baie ou onthou daai, Vader Krismis. Nou is dit politiek, so ons praat nie eintlik daaroor nie.
Dit gaan bietjie rof op die oomblik in die ou wêreld. Almal is kwaad en almal dra maskers. En dis nie eens vir ‘n fênsie maskerbal nie. Sommer oor ‘n mislike siekte, maar party sê dis konspirasie of so iets en ander sê dis politiek. So ek praat nie daaroor nie. Ek sê maar net, ek dink jy sal anner planne moet maak om presente uit te deel. Miskien aanlyn bestel en laat aflewer.
As jy nou rêrig aandring om dit self te bring, moet jy dalk jou bokke in die Noordpool los en ‘n motoraangedrewe slee vat. Een met ‘n dak en aircon. Hier is hittegolwe.
Jou bokke gaan medium-rare wees voor hul Gauteng bereik. Sit die slee se dak op, dit hael vreeslik. Lyk soos sneeu, maar dis hard en ek weet nie of jou versekering vir haelskade betaal nie. Moenie probeer ry nie, die slaggate in die paaie is reeds 80% vol. Ons is nie seker wie se skuld al die dinge is nie, maar dis politiek. En jy weet ons praat nie daaroor nie.
Stuur tog asb ‘n sak steenkool vir die ooms by die elektrisiteitsplek, anders sit ons weer met beurtkrag oor Krismis. Kosmaak sonder elektrisiteit pla ons nie so baie nie, maar my humeur ref in die rooi as die waaier nie werk nie. Sterkte met al die vlieg, wense en presente en onthou tog om ‘n masker te dra. Jou lewenslange vriendin uit die RS van A.
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/82915/liewe-vader-krismis/

Related Articles

Back to top button