News

‘n Nalatenskap, ‘n reis voltooi….

'n Nalatenskap, 'n reis voltooi....

 

Iemand het eenmaal gesê: “When I retired, I decided to stop living at work, and to start working at living.”

Dit is presies wat Jan en Coral Fourie gedoen het toe hulle 22 jaar gelede hier kom ‘uittree’ het. Maar die uurwysers vir aanbeweeg staan reg – Pietersburg toe einde Januarie, na hul oudste dogter, om die sirkel te voltooi. ‘n Nuwe begin in ‘n nuwe lewensjaar. Maar dit was hier wat Coral haar droom kom leef het vir haar loopbaan as professionele skilder. Die dag toe hulle Lichtenburg gegroet en Parys hul met oop arms omhels het met geleenthede om te kon groei, te leef, te geniet wat ookal oor hul pad gekom het.  

Wonderlike jare waarop hulle terugkyk op die vele gesins- en familiekuiers, waar hul huis in Boomstraat – die tweede oudste huis in Parys, sy deure wawyd oop gehad het vir kuiers van die kinders en kleinkinders – dae toe die Mimosa swembad en glybaan, reg oorkant hul huis, ure se pret en plesier gegee het. Waar Jan sy liefde vir die natuur en geskiedenis kon leef as gids op die vele voëlkyk uitstappies en Koepel-toere waarmee hy die geologiese wonder van die Vredefort Koepel as wêrelderfenisgebied oor 12 jaar aan meer as 5 000 nasionale en internasionale besoekers van die noorde tot die suide, ontsluit het.  

Waar Coral haar kon uitleef as nasionaal erkende kunstenaar met die Boesmankultuur en rotskuns wat sentraal staan in haar werke as metafoor vir tyd. Tyd en ruimte wat sy gebruik as uitdrukking in haar werk en oproep tot bewaring van die natuur. Haar Tswana-naam is nie verniet Mmamahika (vrou van die rotse) – genoem na haar liefde as kind om klippe op te tel. ‘n Besondere nalatenskap tot die kunste en bewaring wat hulle agterlaat – elkeen in sy eie veld, maar waarmee hulle mekaar op unieke wyse kon aanvul en inspireer. “Eintlik was Suid-Afrika ons adres,” vertel Coral as sy vertel dat hulle destyds van Lichtenburg af ook Pietersburg toe is.

Vandaar het hul lewenspad hulle na Thabazimbi en toe Transkei geneem waar Jan hoof was by twee van die destydse kapteinskole. Eers daarna sou die pad terugloop na Lichtenburg vir ‘n wyle voordat Parys hul uittree-plek geword het.   Dit was ook op Lichtenburg waar die twee mekaar destyds ontmoet het – vir albei hul eerste skole in hul onderwysloopbaan. Coral as kunsonderwyseres, Jan as onderwyser in handelsvakke en liggaamlike opvoeding. Of dit die Bosveld, Thabazimbi, Transkei was….waar hulle gekom het, het hulle gaan verken. “Die land op die arm man se manier leer ken.”

Toe hulle destyds in Parys gekom het, het Jan aanvanklik nie geweet wat hy sou doen nie. Maar dit was juis sy liefde vir die omgewing wat hom in Februarie 2008 laat kwalifiseer en registreer het as geskiedenis- en natuur toergids.   Hy stig Vredefort Dome Impact Tours wat oor die 12 jaar wat gevolg het 612 toere sou doen.   In 2014 ontvang hy die Lilizela-toekenning as beste gids in die Vrystaat – een van net vier in die land wat met die toekenning beloon is. En in 2018 kry hy erkenning by die Vaal Explorer toekenningsgeleentheid met ’n goue sertifikaat vir sy bydrae as erfenisgids.   Dome Impact Tours sal wanneer Jan en Coral verhuis, steeds voortgaan onder ‘n ander toergids.

Jan het benewens die Koepel-toere ook vir drie jaar die Feathers-voëlklub gelei, en ook hier ‘n waardevole bydrae gelewer. Vir Jan en Coral is daar nog baie toere wat op hul wag. Hulle wil weer ‘n slag die Bosveld gaan beleef, teruggaan Venda toe, die Vunditsi-meer in die land van die kremetarte… En Coral se skildershand is nog lank nie stil nie. Sy gaan aanhou skilder en uitstal. Trouens – sy het al vantevore twee uitstallings in Pietersburg gehou en van haar werke hang steeds in die Pietersburg kunsmuseum. In die afgelope jare was daar uitstallings van Coral se werke by die Noordwes- Universiteit se Potchefstroom-kampus, waaronder ook haar besonderse 80 jaar viering uitstalling met die tema, “Passages through time”. Hierbenewens is haar werke van die Kaap tot in Johannesburg gesien. Drie boeke oor boesmanstories het reeds uit haar pen verskyn, en die plan is om weer haar boek, “Living legends of a dying Culture” uit te gee.

Daar’s baie planne, want terwyl jy asemhaal moet jy leef, gesels hulle as hulle groet op die stoep met die woorde: “Sê groete aan Mannetjies Roux!”  

Related Articles

Back to top button