
Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) Parys het op die ingewing van die oomblik besluit om ‘n weeklange projek te loods waar gevra is vir toiletware vir hulle waar die nood die grootste is. Aanvanklik is beoog om net sowat 50 pakkies op te maak. “Die mense van Parys het al deur die jaar soveel gegee en omgee gewys dat ons nie té veel wou vra nie. Maar weer eens het Parys se mense ons verras en ons stoutste verwagtinge oortref. Met die eerste twee oproepe wat ontvang is, het ons reeds ons mikpunt bereik. “Deur die week het daar pragtige donasies ingekom wat ons so dankbaar laat voel het. Vrydagoggend is daar ‘n vrag toiletware en nie-bederfbare produkte afgelaai deur ‘n persoon/gesin wat anoniem wil bly.”

Saam met al die toiletware en bederf was daar ook ‘n belofte van ‘n houer vol bybels. Personeel van Dome Primary het hande gevat en gehelp, en Parys Christelike Skool en Noag se Arkie se leerders het ook ‘n groot bydrae gemaak. “Ons hier by VVA Parys staan in verwondering oor hoe Parys se mense met hul hart en sonder vrae kan gee. Baie dankie vir elke bydrae, klein of groot. Ons sal sowat 150 pakkies in Parys kan uitgee en ‘n verskil kan maak waar dit die nodigste is.”.




