

Pretorianers spog oor hul Jakaranda-prag, maar het jy al Parys se Pride of Indias in vol blom langs die dorp se strate gesien. ‘n Ongelooflike blomkleed met die helderste pienk, pers en wit blomme. Vir besoekers aan die dorp, beslis die moeite werd om deur die dorp te ry en waar jy kyk sal jy beloon word met die ongelooflikste gesig van kleur in volheid na milde reën wat die dorp in November gehad het.


Met die skole nou gesluit, is hierdie naweek ideaal om ‘n draai in Parys te maak want van 12 tot 23 Desember is die nou reeds bekende Parys Kerskunsmark weer oop in die kerksaal van die NG gemeente Parys-Wes h/v Kort- en Grensstraat. Ideale en bekostigbare Kersgeskenke wat selfs in die knapste begroting sal pas. Kom loer in daagliks 09:00 tot 18:00 en geniet iets in die teetuin op die boomryke kerkterrein.
Of kom beleef die gasvryheid van Parysenaars hierdie naweek wanneer daar nagmark gehou word in die hoofstraat. Die straat word afgesper en jy kan rustig koop, kuier en geniet tot laat van alles en nog wat wat die dorp jou kan bied.
Rocco de Villiers is Vrydagaand 11 Desember by Capello restaurant en jy kan sy vertoning gratis geniet, maar jy moet vooraf jou naam op die lys sit deur (056) 811 4000 te skakel. Lianie en Jay is Saterdagaand 12 Desember by Chery on Top. Die vertoning begin om 19:00. Vir navrae en kaartjiebesprekings skakel 072 837 5434.
En dan is ‘n kuier in Parys ook nie behoorlik afgesluit as jy nie eers ‘n foto saam met Kersvader en sy elwe geneem het by Santa’s Grotto by Epilepsie SA se winkel in Breëstraat. Ondersteun ook so hierdie verdienstelike organisasie.
Op die koop toe is daar hierdie naweek Lofsang by kerslig spesiaal vir die viering van Kersfees by die AfriDome in Allenbystraat op Sondag 13 Desember om 18:00. Bring net jou eie kers en stoel en onthou jou masker. Geen toegang word gevra nie. Sien jou in Parys hierdie naweek!!!




