

Lekker koop. Lekker kuier. Lekker kos. Dit is wat jy kan verwag van die nagmark wat op 11 en 12 Desember van 17:00 tot laat in Parys se hoofstraat gehou word.
Trek jou stapskoene aan, bring jou rugsak – vat jou tyd. Kom drentel van winkel tot winkel en kom kyk watter ongelooflike produkte en verskeidenheid die dorp se sakelui jou bied. En as jou voete moeg geloop is, kry ’n sitplekkie by een van die restaurante en koffiewinkels, elk met ’n eiesoortige karakter.
Hierdie mark gaan daaroor om Parys te bemark ná ’n tawwe jaar. Help mekaar, ondersteun mekaar, nooi almal uit! Toerisme is ons dorp se vooruitgang! Die hele dorp is welkom om deel te neem aan dié Parys Sakeliga inisiatief. Dit is gratis. Reël met ’n besigheid om ’n tafel/stalletjie by/voor hul winkel op te stel.
Die kernarea is van Enstyle tot by Legends aan beide kante van die straat.
Enigiets is welkom. Enigeen is welkom. Die gedagte is om as besighede saam te staan en mekaar te ondersteun.
As dit met ons besighede goed gaan, gaan dit goed met ons dorp.
As jy ’n besigheid in die hoofstraat het, of beplan om ’n stalletjie by die mark te hê – sit op jou liggies, laat hoor jou musiek – maak dit ’n aand om te onthou.
Die plan is om die straat af te sper vanaf Spar tot by Steers. En onthou – dit skakel nie die omliggende besighede uit nie. Die afsperring is bloot ter wille van verkeer en veiligheid, sodat mense rustig en veilig in die hoofstraat kan beweeg.
As jy vrae het kontak Dalene Thompson per WhatsApp by 083 929 6847.




