

In 2019 het ’n groepie liefhebbers van Afrikaans en kultuur ’n plaaslike ATKV-tak gestig. Die taknaam toe heel gepas – ATKV Vredefort Koepel.
‘n Aksie of twee het wel plaasgevind voor die groot pandemie ons op ons kop kom keer het. Maar nou word daar weer met nuwe ywer weggespring en word almal wat lief is vir Afrikaans genooi om te kom aansluit op Vrydag, 11 Desember om 18:00 by O’s Restaurant. Daar wag ‘n groot kultuurlekkerte op almal wat die aand gaan bywoon. Met Erna Rademan agter die klavier en Magda Perry wat ons lei, gaan daar heerlik saam Afrikaanse liedere gesing word. Wanneer laas het jy “Vaarwel my eie soetelief” gesing?
Kom wees nostalgies saam met die ATKV Vredefort Koepel. Tenoor Werner van Coller van Viljoenskroon kom sing kunsliedere, en Colia Wentink gaan jou laat skater met Griekwa-Afrikaanse staaltjies. Kom geniet dit alles in die besondere atmosfeer van O’s. Wat elkeen eet en drink is vir sy/haar eie rekening, maar die vermaak en kultuurbelewenis is heeltemal gratis. Met die Geloftedag herdenkingsfees wat eersdaags plaasvind is hierdie saamkuier ‘n ideale voorloper.
Elke Parysenaar en inwoner van Vredefort kan kom deel in die kultuurskatte van Afrikaans. Kom kry tonekrul lekker en laat jou hart sommer weer swel van trots en liefde vir Afrikaans. Skud sommer die pandemie-narigheid af en skep moed vir vorentoe gaan. Vooraf bespreking by O’s (056) 811 3683 om jou plek te verseker is noodsaaklik. Meld ATKV kuier wanneer jy bespreek. Vir navrae of meer inligting oor die ATKV of die saamkuier, kan jy Corlia by 082 732 0257 of (056) 931 0207 kontak.




