
Die projek het sedert Maart vanjaar uitgereik na talle individue en gesinne in finansiële nood, hoofsaaklik weens die Covid-19 pandemie, en inperking wat daarop gevolg het. Op ’n stadium is kospakkies voorsien aan tot 1 700 mense in 540 gesinne. Tans help Red Ribbon steeds met kospakkies vir 40 gesinne.
Die Red Ribbon-projek is met die aankondiging van inperking in Maart vanjaar gestig deur Lourens van Wesleys nadat besef is dat ’n beduidende aantal Parysenaars se inkomste as gevolg van inperking geraak sou word in terme van werksgeleenthede en inkomste. Gevolglik is die Red Ribbon voedselskema gestig met die aanvanklike konsep dat as mense voedsel gehad het om te skenk, ’n groen lint aan jou hek of omheining gehang kon word. Mense wat voedselnood het, kon weer ’n rooi lint aan die hek of heining hang, terwyl mense wat kos vir hul diere benodig het, ’n geel lint opgehang het. Dit het gou duidelik geword dat die nood by die dag groter geword het, en daar selfs mense was wat nie meer elektrisiteit aankope kon bekostig nie. Gevolglik is die projekstrategie aangepas en het verskeie mense aangebied om te help om maaltye voor te berei.
Skenkings van bestanddele vir die sop en maaltye asook kontantskenkings is deur CSS-personeel opgetel by huise en geneem na die vrywilligers wat die maaltye voorberei het. Daarna is die verpakte voedsel weer opgetel en versprei. Op ’n stadium is tot 1 890 maaltye op ’n dag bedien. Daar word nou beplan om vir oulaas nog ’n spesiale Kerskospakkie aan hulle in nood te gee na wie daar nog omgesien word. (Lees ook die berig hiernaas). Hoewel die organisasie nie ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is nie, is hierdie projek gebore uit mense wat bymekaar gekom het om daadwerklik ’n verskil te maak in ’n tyd wat mense in abnormale omstandighede op hul kwesbaarste was.


Dankie aan elkeen wat die afgelope maande ‘n bydrae gemaak het tot die projek – hoe groot of klein ookal, elkeen wat gehelp het om die etes voor te berei, of op enige ander manier gehelp het om seker te maak dat daar voorsien word in die nood van so baie.




