NewsNews

‘Jy wil weet of Ragel weer kon terugklim in die ‘prêm’ waaruit sy geval het’

‘Jy wil weet of Ragel weer kon terugklim in die ‘prêm’ waaruit sy geval het’

Om ’n boek soos Ragel in die Malhuis te kan skryf, verg die kundigheid van ’n besondere skrywer. Iemand wat dieper as die gewone mens kan kyk – iemand wat wéét. Só ’n skrywer is Wilnetta van Reenen van Parys. Sy wéét, want sy was self daar.

Dis ’n boek vol deernis, vol humor – ’n boek wat jou laat dink. en weer en weer wil laat terugblaai om die hoofstuk weer oor te lees – dalk het jy een woord gemis. En dalk, net dalk, herken jy jouself in een van die karakters.

Elke nou en dan verskyn daar ’n eenvoudige, tog aangrypende gedig op die volgende bladsy. Al hierdie gedigte word saamgestel uit “weeswoorde” en is aanvullend tot die verhale. Die leser sal dit aanvanklik as losstaande sketse sien, maar tog vorm elke hoofstuk deel van die verhaal. Wilnetta vertel dat sy die manuskrip met die hand skryf, omdat sy nie met ‘n rekenaar wil werk nie. Wanneer mens tik en dan met die oorlees daarvan sommige woorde moet uitvee, is hulle vir altyd weg. Nou skryf sy met die hand en omkring die woorde wat oortollig is en later gebruik sy hierdie “weeswoordjies” in ‘n gedig. Mens wil méér lees na die einde van die boek. Jy wil weet of Ragel weer kon terugklim in die “prêm” waaruit sy geval het, en of Mia haar anorexia kon oorwin, en of mister Maaiburg weer kon begin praat. ‘n Boek wat die leser nie onaangeraak sal laat nie.

Oor ‘n koppie koffie en kaaskoek vertel Wilnetta dat sy ná matriek aan die Hoërskool Witrivier, toe al haar maats universiteit toe is, eers na Weskoppies en later Valkenburg toe moes gaan. Daar is sy gediagnoseer met bipolêre gemoedsversteuring, waaraan sy vandag nog ly.

Sy vertel eerlik en sonder om te huiwer dat sy boonop ‘n letsel op haar breinstam het, wat haar onder andere ook baie laat bewe en haar korttermyn geheue aantas. Haar linkerhand het eers begin bewe maar kon sy nog lekker met haar regterhand skryf. Nou bewe haar regterhand ook en kan sy sommige dae net krabbel, en nie leesbaar skryf nie. So wys sy my ‘n stukkie uit haar notaboek: “As ek maar net weer my potlood kan vashou en nie voel of die potlood my vashou nie.” Die angstoestand waaraan sy ly, dreineer haar emosies en energie sommige dae so erg, maar dan herinner sy haarself met die woorde – doen met wat jy oorhet, nie met wat jy verloor het nie.

Wilnetta vertel dat wanneer sy begin skryf, sy haarself stroop van al haar juwele sodat sy “naak en eerlik” kan sit en skryf. Na die skryf van ‘n verhaal, artikel, of ‘n boek soos hierdie voltooi is, tik sy dit met twee vingers op die rekenaar voordat sy dit na die uitgewer stuur. Heelwat van haar gedigte, kortverhale en artikels is al in bekende tydskrifte gepubliseer en almal is met twee vingers getik.

Wilnetta is getroud met Marius van Reenen en hulle het drie seuns wat onderskeidelik ‘n geoktrooieerde rekenmeester, prokureur en ingenieur is, en ‘n dogter wat ‘n advokaat is.

Lesers wat graag die boek “Ragel in die Malhuis” wil bekom, is welkom om met Wilnetta te skakel by 084 582 3881. Die boek word deur Naledi uitgegee. 

Hierdie is een van die treffende gedigte in Wilnetta se boek, Ragel in die Malhuis.

alzheimers

ek

loer na jou

deur die tralies

van my gedagtes

 

beur

teen die mure

van my dink

 

pluk

aan die slotte

van herinneringe

klop

klaa

van baie gisters

 

skaaf

aan die membraan

van my onthou

 

ek grou

met stomp vingers

deur die modder

in my kop

 

maar dit raas hol

soos klippe in ‘n geroeste blik

‘n droë kalbas vol pit 

 

Related Articles

Back to top button