News

Manne, toets jou prostaat

Manne, toets jou prostaat

November staan ook bekend as Movember omdat mans aangemoedig word om dan ’n snor te groei ter bewusmaking van gesondheidsprobleme wat mans beïnvloed, soos byvoorbeeld prostaatkanker. Dr. Rudolph van Wyk, gesondheidspraktisyn in Parys, beskryf die prostaat as “’n klier wat net onder die blaas sit, en waarvan die funksie is om voedingstowwe aan sperms te verskaf wat deel uitmaak van die semen.”

Volgens dr. Van Wyk is prostaatkanker ‘n stadig-groeiende kanker en daarom is dit belangrik om jaarliks te toets daarvoor as jy ouer as 40 jaar is. Die toets vir prostaatkanker is ‘n bloedtoets wat die vlakke van prostaat spesifieke antigeen (PSA) toets. Die prostaat is die enigste klier in die liggaam wat PSA afskei en daarom het vrouens geen PSA nie. Alhoewel ‘n rektale ondersoek dikwels saam met die bloedtoets gedoen word, is dit slegs ‘n absolute noodsaaklikheid waar daar ‘n probleem is met die urienvloei of indien daar ‘n geskiedenis van prostaatsiekte is.

Wat is die simptome van prostaatkanker? Laer urienwegsimptome soos ‘n onderbreekte urienstroom of ‘n swakker stroom, kan ‘n teken wees van prostaatkanker indien jou dokter ‘n infeksie uitgekakel het. “Benigne prostaat hiperplasie, of BPH, is waar die prostaat slegs geswel is, en dit kan ook dieselfde simptome toon as prostaatkanker,” verduidelik dr. Van Wyk. “Omdat die prostaat vergroot is, kan die urienbuis vernou en die blaas moet dan harder werk om die uriene uit te stoot. Die mediese professie noem dit die irritatiewe simptome. Wanneer ‘n man egter sukkel om te urineer of glad nie meer kan urineer nie, word dit obstuktiewe simptome genoem.”

Die probleem met ‘n stadig-groeiende kanker soos prostaatkanker is dat, teen die tyd wat jy simptome het, kan die kanker reeds ver gevorder wees. Dit is hoekom dit so belangrik is om jaarliks die PSA bloedtoets te laat doen. “Prostaatkanker het ‘n voorliefde vir die skelet,” sê dr. Van Wyk. “Daarom moet ons prostaatkanker uitskakel wanneer ‘n man, en veral ‘n bejaarde man, van rugpyn kla.” Prostaatkanker prognose Data wys dat een uit elke 10 mans prostaatkanker sal ontwikkel, maar, sê dr. Van Wyk, “dit is ‘n baie behandelbare kanker indien dit vroeg genoeg diagnoseer word; dit het in die algemeen dán ‘n goeie prognose.” Indien prostaatkanker by jou vermoed word as gevolg van ‘n hoë PSA telling, sal jou dokter jou stuur vir ‘n biopsie. “Daar is drie maniere om ‘n biopsie te doen,” verduidelik dr Van Wyk. “Trans-uretaal, trans-rektaal, en trans-perineaal. Die selle word volgens die Gleason-skaal geklassifieer na gelang van die aggressiwiteit van die kanker.”

Tipiese behandeling sluit in die verwydering van die prostaat met behulp van chirurgie, bragiterapie, eksterne bestraling en hormonale behandeling. In die geval van prostaatkanker wat reeds ver gevorder is word die testes soms verwyder waarna die man dan (soms) met sistemiese hormoonblokkers behandel word. Waar hormoonterapie faal, word die man gewoonlik verwys vir chemoterapie. In drastiese gevalle word die hele prostaat verwyder wat ongelukkig newe-effekte soos erektiele disfunksie en die lek van uriene tot gevolg mag hê. “Dit is hoekom vroeë diagnose van prostaatkanker so belangrik is,” sê dr. Van Wyk. “Hoe vroeër dit opgespoor word, hoe beter is die prognose. Meeste mans reageer goed met behandeling as dit vroeg genoeg gediagnoseer word.”

Die PSA bloedtoets is ‘n jaarlikse voordeel wat jou mediese fonds sal dek as deel van die fonds se siftings- en voorkomingsvoordeel. “Soos wat jy weet wat jou bloedgroep is, moet mans weet wat hul PSA telling is,” verduidelik dr. Van Wyk. Dit is veral belangrik as daar ‘n familiegeskiedenis is van kanker. As jou pa dit gehad het, is jou risiko hoog. As jou oupa dit gehad het, is jou risiko hoog. As jou pa en jou oupa dit gehad het, is jou risiko besonders hoog. “Maar weereens, ‘n familiegeskiedenis moet êrens begin. Daarom kan ek die noodskaaklikheid van die jaarlikse PSA nie genoeg beklemtoon nie,” sê dr. Van Wyk. Moet dus nie ‘n kans waag of wag tot jy die simptome het nie. Kontak jou gesondheidspraktisyn vandag nog om te reël vir ‘n PSA bloedtoets. Dit kan jou lewe red.

Related Articles

Back to top button