News

Oppas: “Afslag” toe ’n baie duur prys om te betaal

Oppas: “Afslag” toe ’n baie duur prys om te betaal

   

 

Wanneer jy uit die bloute 30% afslag aangebied word op jou kruideniersware, is dit beslis nie te versmaai nie – juis nou in moeilike ekonomiese tye, en des te meer as jy ’n pensionaris is! Maar wees gewaarsku – dié slenter het ’n niksvermoedende 75-jarige pensionaris verlede Woensdag in ’n oogwink R18 000 se swaarverdiende spaargeld gekos. Terwyl die bejaarde vrou besig was om haar inkopies te doen in Checkers, het ‘n dame wat ook doodgewoon besig was om inkopies te doen, ’n geselsie met haar aangeknoop en gesê dat sy haar kon help om 30% afslag op al haar kruideniersware te kry. Sy het vertel hoe sy self hierby baat en aangebied om haar na die ‘bestuurderes’ te neem wat haar sou help om die afslag te reël.

Voor in die winkel by die tydskrifrakke het die kwansuise “bestuurderes” toe inderdaad gewag. Omdat die vrou in swart geklee was soos die winkelbestuur, het die bejaarde dame nie onraad vermoed nie.

Die “bestuurderes” het haar  gevra om haar trollie by haar te los sodat sy die afslag kon reël, terwyl hulle vir haar by die winkelingang moes wag. Omdat die bejaarde vrou moeilik loop het die vrou wat aanvanklik die geselsie aangeknoop het, voorgestel dat hulle by Mug & Bean sou wag en haar toe ewe “hulpvaardig” gehelp na die tafel waar hulle sou wag. Na ’n rukkie het die “bestuurderes” weer by hulle aangesluit en haar makker is badkamer toe met selfs haar handsak wat sy by hulle gelos het. Toe sy weer by hulle aansluit, het die “bestuurderes” wat die parkeerarea fyn dopgehou het, skiellik die bejaarde vrou se handsak geneem en begin aanstap in die rigting van die kettingwinkel, glo om te gaan betaal vir die bejaarde vrou se kruideniersware. In ’n oogwink was die skurke skoonveld en die erg getraumatiseerde bejaarde sonder haar handsak, huis- en motorsleutels, haar beursie met haar bankkaarte en haar selfoon.

Sy is terug na die kettingwinkel waar sy hulp ontbied het, en is sy dadelik gehelp deur die personeel wat geen moeite ontsien het om haar by te staan en die polisie te kontak. Hul pogings om selfs by die taxi-staanplek te gaan soek in die hoop om die vroue op te spoor, was egter tevergeefs. Kort na die voorval is transaksies met die vrou se bankkaarte gedoen by ’n outomatiese tellermasjien, asook ’n kaartlose transaksie.

Die skuldiges is steeds soek.

* Asseblief wees gewaarsku – moenie sommer enigeen vertrou nie, hoe eg en goed die storie ookal mag klink. * Dit is altyd raadsaam om ’n kredietlimiet op jou kredietkaarte te plaas. * Maak altyd eers dubbel seker of wat vir jou vertel word, die waarheid is. Dit kan nie kwaad doen om eers jou huiswerk goed te doen, alvorens jy jou inlaat vir iets wat jy nie seker is of dit die waarheid is nie. * Wanneer iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik. * Waak daarteen om al jou bankkaarte by jou te dra. * Moet nooit vir iemand jou pinnommer gee of toelaat om namens jou ‘n transaksie te doen nie.   

Related Articles

Back to top button