NewsNews

Testamente: Liewer bang Jan as dooie Jan

Testamente: Liewer bang Jan as dooie Jan

 

’n Testament is dikwels ‘n dokument wat net uit ’n paar kort bladsye bestaan, maar wees verseker – dit is waarskynlik van die belangrikste bladsye wat jy ooit in jou lewe sal onderteken. Hier volg ‘n paar nie-alles insluitende aspekte wat jy sal moet oorweeg wanneer jy jou testament opstel of wysig:

1. Veranderde omstandighede: Hersien gereeld jou testament. Omstandighede en die inhoud van jou boedel verander. Maak gereeld seker dat daar steeds genoeg kontant is om boedelskulde en -kostes te vereffen, kontantbemakings te betaal en dat die bepalings van jou testament steeds prakties uitvoerbaar is binne die grense van die, dan, geldende wetgewing. Jy moet deesdae ook, behalwe vir verskeie ander belastings, die effek van kapitaalwinsbelasting op jou boedel en moontlike tekorte wat dit kan veroorsaak, oorweeg. In veranderde omstandighede, soos waarin ons onsself tans bevind, probeer jou bes om nie uit die graf te regeer nie. Jy weet nie wat die toekoms inhou nie. Moet byvoorbeeld nie erfgename verbied om ‘n eiendom te verkoop nie. Jy weet nie wat in die toekoms voorlê nie.

2. Oorweeg die posisie van jou erfgename: Indien jy minderjariges as erfgename het, moet jy jou vergewis van die regsposisie. As jy nie behoorlik beplan nie, kan dit meebring dat so ‘n minderjarige se erflating onder die bepalings van die Voogdyfonds val welke bepalings baie rigied en voorskriftelik van aard is. In die geval wat jy onroerende eiendom aan jou minderjarige erfgenaam nalaat, kan dit ook verskeie komplikasies in die toekoms vir daardie erfgenaam inhou terwyl hy/sy minderjarig is. Oorweeg dus alles aspekte van so ‘n bemaking. Beplan ook vir voogde vir jou minderjarige kinders en maak seker die voogde weet wat van hulle verwag word. Wees versigtig as jy iets aan ‘n ongerehabiliteerde insolvent bemaak (dit kan maklik gebeur dat ‘n erfgenaam insolvent verklaar is en jy dalk nie eers daarvan weet nie). Kry advies hoe om so ‘n situasie te benader. So nie kan so ‘n bemaking verlore raak onder krediteure.

3. Oorweeg die posisie van die bate: Maak seker dat die eiendom wat jy wil bemaak wel oorgemaak sal kan word aan jou ergenaam/erfgename ooreenkomstig jou wense. Daar kleef soms sekere beperkende voorwaardes aan die bate, voortspruitend uit, byvoorbeeld, ‘n vorige boedel waaruit dit geërf is wat veroorsaak dat jy nie volkome daaroor kan beskik nie. In ander gevalle kan die tipe eiendom dalk nie gelaat word aan, of is daar sekere reëls wat nagekom moet word alvorens die bate aan meerdere erfgename in onverdeelde aandele oorgemaak sal kan word. Maak seker die eiendom is vererfbaar in die wyse wat jy wil voorskryf in jou testament.

4. Pasop vir ‘n selfopgestelde testament of wysigings aan jou testament: Daar bestaan baie streng voorskrifte vir ‘n geldige testament, so nie is so ‘n dokument of moontlik ‘n gedeelte daarvan ongeldig. Dit kan lei tot ‘n situasie waar belangrike besluite soos wie die eksekuteur van jou boedel is, en wie wat moet erf, aan ‘n ander oorgelaat word, of dat ‘n vorige testament wat lank nie meer jou wense korrek reflekteer nie, nou as jou testament aanvaar sal word.

5. Huwelikstatus het ‘n groot rol te speel. Onthou indien jy binne gemeenskap van goedere getroud is, vorm die hele gesamentlike boedel, die boedel wat beredder moet word. Dit is dus irrelevant of die bankrekening en voertuig op die langslewende gade se naam is – dit vorm alles deel van die gesamentlike boedel. Sou ‘n bate van die gemeenskaplike boedel dalk reeds by die dood van die eersterwende gade bemaak word aan ‘n ander persoon, kan dit dramatiese gevolge hê, en moet jy beslis jou vergewis van die regseffek (onder andere moontlike belastingimplikasies) daarvan. Gebruik kundiges om jou by te staan en hersien gereeld jou testament om hartseer en onnodige probleme te voorkom.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button