NewsNews

Die einde van ’n lang pad vir Leonel

Die einde van ’n lang pad vir Leonel

 

Na vyf maande het die 4-jarige Leonel Riekert van Parys aan die einde van haar pad saam met vitreo-retinale spesialis, dr. Bernard Wolff, gekom. Vyf lang maande waarin haar lewe handomkeer verander het sedert ’n fratsongeluk op 2 Junie vanjaar toe sy met ’n skêr in haar handjies geval het. Die skêr het haar wang gepenetreer en ernstige skade aan haar linkeroog veroorsaak.

Alles moontlik is sedertdien vir Leonel gedoen om die sig in haar ogie te kon red, al moes haar ouers, André en Mari, vandeesweek die hartseer nuus hoor dat sy net 5% sig in haar linkeroog het.

Desondanks is daar steeds oneindige dankbaarheid vir alles wat die gemeenskap van Parys, verpleegpersoneel en dokters, en selfs vreemdes gedoen het om die gesin die afgelope maande te ondersteun en te bemoedig. Dr. Wolff meen dat Leonel se sig dalk nog kan verbeter, maar ongelukkig is daar geen waarborge nie, en niks meer wat hy nog kan doen om haar te help nie.

Einde Januarie sal sy weer na dr. Wolff gaan wanneer besluit sal word of sy ’n bril moet dra wat haar kan help. As jy sien hoe die blondekop woelwatertjie klim en klouter, kan jy kwalik glo waardeur sy die afgelope maande is.

Sy het drie oogoperasies ondergaan, waaronder ook om katarakte te verwyder en ’n lensoorplanting te kry – die gevolg van die trauma van die besering. Vandag kan André en Mari net getuig oor die wonder wat hulle die afgelope maande dag na dag beleef het.

Omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, was die groot vraag – hoe red hulle Leonel se ogie, want tyd was nie aan hulle kant nie. Maar mense se oop harte en die genade van die Here, het deure vir hulle oopgemaak. Binne twee dae nadat Gazette oor Leonel se ongeluk berig het, en ’n trustfonds vir haar behandeling begin is danksy prokureur Stefan Scheepers, is genoeg geld ingesamel sodat daar dadelik geopereer kon word.

Daar was ook genoeg fondse om vir haar opvolgbehandeling te betaal. Vandag weet haar ouers Leonel sal ok wees. As jy nie weet van haar ongeluk nie, sou jy nooit kon raai dat haar sig nie 100% is nie. Sy gaan normaal aan en kan soos enige kind nie wag om te swem nie.

Dankie vir elkeen wat Leonel en haar gesin met gebede, oproepe, boodskappe en elke ander gebaar van omgee staande gehou het, selfs deur hierdie moeilike maande wat verby is.  

Related Articles

Back to top button