NewsNews

Nuutste Afrikaanse Bybelvertaling – Abraham praat nou vlot Afrikaans

Nuutste Afrikaanse Bybelvertaling – Abraham praat nou vlot Afrikaans

Die nuutste vertaling van die Bybel in Afrikaans is reeds sedert 18 Oktober op die rakke.  Min mense weet egter dat die inisiëring van dié vertaling, soos met die 1933/53-vertaling waaraan Totius gewerk het, in Potchefstroom ontstaan het en dat verskeie eksegete, literators, taalkundiges en kommunikasiekundiges van Potchefstroom aan die nuwe vertaling gewerk het.

Die ontstaan van die nuwe vertaling:
Prof. Jorrie Jordaan, afgetrede professor aan die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit, sê die nuwe vertaling was vir die eerste keer ‘n besprekingspunt op die agenda van die 1994-sinode van die Gereformeerde Kerk. Mense regoor die land het ‘n behoefte gehad aan ‘n oorspronklike bronteksvertaling in  ‘n maklik leesbare Afrikaans. Volgens prof. Jordaan is daar voor die 2020 vertaling net twee vertalings in Afrikaans wat uit die oorspronklike bronne van Grieks en Hebreeus vertaal is – die 1933/53- en die 1983-vertaling. Die 1933/53-vertaling is die naaste aan die oorspronklike brontale, maar is moeilik om te lees en te verstaan. Die 1983-vertaling is weer maklik leesbaar omdat dit meer interpretatief is en nie so na aan die oorspronklike bronteks is nie. Daar het dus ‘n behoefte ontstaan om ‘n vertaling te kry wat na aan die oorspronklike bronteks is, maar wat makliker leesbaar is.

Waarom ‘n derde vertaling?
Prof. Jordaan verduidelik die verskillende vertalings aan die hand van ‘n boer wat drie voertuie in sy stoor het. Hy het ‘n trekker om die lande te ploeg, ‘n bakkie wat swaar vragte kan vervoer en ‘n Mercedes waarmee hy kerk toe ry. “Die trekker is die 1933/53-vertaling. Dit is ‘n voertuig wat nie gemaklik bestuur nie, maar as hy aan ‘n ploeg gehaak is, gaan hy diep. Met die Mercedes, wat die 1983-vertaling voorstel, ry hy Sondag kerk toe, want dis gemakliker en vinniger. Jy kan nie met die trekker kerk toe ry of met die Mercedes ploeg nie.

Die 2020-vertaling is die bakkie, want jy kan daarmee ploeg en jy kan Sondag daarmee kerk toe ry. Met dié vertaling praat Abraham Afrikaans. Prof. Jordaan wil dit duidelik maak dat daar niks met enige van die twee vorige vertalings fout is nie: “Dit gaan oor die wese van die vertaling en nie of dit reg vertaal is nie. Elke vertaling moet vir die regte doel aangewend word.”

Nadat die versoek van die sinode vir ‘n nuwe vertaling aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gerig is, het dit sowat 12 jaar geneem voordat daar in 2006 uiteindelik met die vertaling begin is. Prof. Jordaan was deel van die aanvanklike komitee wat die voorstel in 1996 vir die eerste keer aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika voorgelê het. In 2004 was hy deel van ‘n loodskomitee wat al die kampusse in Suid-Afrika besoek het om die idee van die nuwe vertaling te verduidelik.

Bybelgenootskap doen marknavorsing:
Die Bybelgenootskap het op hulle beurt marknavorsing gedoen om te bepaal of daar wel ‘n groot genoeg behoefte aan ‘n nuwe vertaling was. Dié navorsing het behels dat dieselfde Bybelteks van drie verskillende vertalings aan gemeentelede regoor die land voorgelê is. Hulle moes ‘n gunsteling teks kies, maar het nie geweet uit watter vertaling dit kom nie. Die drie vertalings was die 1933/53-vertaling, die 1983-vertaling en die vertaling vir die dowes.

Volgens prof. Jordaan is die vertaling vir die dowes die vertaling wat die maklikste lees, omdat mense wat doof gebore word, abstrakte begrippe nie so maklik verstaan nie. “’n Abstrakte begrip soos geregtigheid is byvoorbeeld moeilik om aan ‘n dowe te verduidelik,” sê prof. Jordaan en moet dit kan verduidelik sonder om die begrip te gebruik. Na die opname was die uitslag ‘n verrassing. Die teks wat die meeste mense gekies het, was die vertaling vir die dowes. Tweede was die 1933/53-vertaling en derde was die 1983-vertaling. “Die enigste afleiding wat ons kon maak is dat die meeste mense die maklikste leesbare vertaling verkies en die wat dit nie kies nie, wel die 1933/53-vertaling bo die 1983-vertaling kies omdat dit meer formeel en dalk meer waardig voorkom,” sê prof. Jordaan. Dit is dus presies wat die 2020-vertaling se oogmerk was.

Vertalingsproses en bydraes:
Die vertalingsproses het uiteindelik 14 jaar geduur en het verskeie kundiges ingesluit. Anders as met die vorige vertalings wat deur een persoon behartig is, het die 2020-vertaling uit komitees bestaan wat ‘n eksegeet, taalkundige, letterkundige, en kommunikasiekundige ingesluit het.

Die proses het begin met kerke wat vertalers moes voorstel. Hulle is almal gekontak om vas te stel wat elkeen se spesialiteit is. “Teoloë het elkeen ‘n spesialiteit. So was prof. Fika Janse van Rensburg deel van ‘n  boekspan wat die twee briewe van Petrus vertaal het, prof. Francois Viljoen was by die evangelie van Markus betrokke. Ek het aan die Johannes evangelie en briewe, Openbaring en Hebreërs gewerk, prof. Paul Kruger het op die boekspan van Samuel gewerk, prof. Herrie van Rooy het aan die Psalms, Esegiël, Jesaja, Esra en Nehemia gewerk, prof. Marius Nel was in die boekspanne van Daniël en Miga en prof. Pierre Jordaan was by die vertaling van die Apokriewe boeke betrokke. Johan Blaauw, ook verbonde aan die NWU, was lid van die span taalkundiges en was die samesteller van ‘n hoofstuk in die vertaalwerkboek wat taalkundige riglyne aan die vertalers gegee het.

Die vrouens het beslis nie teruggestaan nie. Dr. Marietjie Nelson het die Afrikaanse finale taalversorging van die Hebreërs-boek behartig, prof. Heilna du Plooy was op die loodskomitee asook literêre adviseur op die redaksiekomitee van die Ou Testament. Prof. Marlies Taljard was op die literêre advieskomitee van die boekspanne wat 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings vertaal het.

Elke boekspan maak eers ‘n basisvertaling. Nadat hulle ooreengekom het dit is bronteksgewys, teologies, letterkundig en kommunikasiekundig korrek, stuur hulle dit vir die redaksiekomitee van die Nuwe- of die Ou Testament.

Die redaksiekomitee van die Ou Testament is van links: Proff. Christo van der Merwe, Karen de Wet, Andries Breytenbach, Bernard Combrink (voorsitter), Heilna du Plooy, Ernst Kotze, Herrie van Rooy, Jackie Naude. Foto: Verskaf

 

Die redaksiekomitees het op hulle beurt ook kundiges gehad wat diskussies oor elke vers moes voer – daar was drie kenners van Hebreeus, ‘n vertaaldeskundige, ‘n taalkundige en drie literêre adviseurs betrokke. Partykeer het hulle ‘n uur lank op een vers gewerk. Hulle moes normaalweg 15 hoofstukke in vyf dae proeflees en dan kommentaar lewer waar aanpassings gemaak moes word. Volgens prof. Du Plooy was dit die redaksiekomitee se taak om toe te sien dat die verskillende vertalings konsekwent vertaal word. Hulle moes byvoorbeeld dieselfde woord in verskillende Bybelboeke dieselfde vertaal en seker maak dat die styl ooreenkom. “Elke hoofstuk wat klaar vertaal is, word hardop gelees en as daar plekke is waar die leser nie gemaklik lees nie, het die komitee weer teruggegaan om daaraan te werk. Die die opdrag was uiteindelik dat die vertalers by ‘n vloeiende, goeie Afrikaans moes uitkom,” vertel prof. Du Plooy. Nadat die redaksiekomitee klaar is, is die proefvertaling aan die lesers in die gemeentes uitgestuur om ook hulle kommentaar te kry. Dié kommentaar moes weer bespreek en verwerk word.

Agter van links: Proff. Jan Barkhuizen, Jorrie Jordaan, Jakkie Naudé, Ernst Kotzé
Voor links: Proff. Andrie du Toit (intussen oorlede, eksegeet), Bernard Combrinck (voorsitter), me. Karen de Wet, Henning Snyman (intussen oorlede). Foto: Verskaf

Die norm van die 2020-vertaling:
Die norm van dié vertaling was dat die vertalers nie moet interpreteer nie, maar direk uit die oorspronklike teks moet vertaal. So is mates, gewigte en range nie na die moderne weergawe vertaal nie. ‘n Centurion is byvoorbeeld nie dieselfde as ‘n kommandant nie. Die vertalers se doel was nie om te verklaar nie. Voetnotas maak die teks uiteindelik vir die leser maklik.

Drie uitgawes:
Die 2020-vertaling word ook as die mees inklusiewe vertaling gereken omdat alle kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik, by die vertaalproses betrek is. Daarom is daar ‘n afsonderlike uitgawe van die 2020-vertaling beskikbaar waarby die Apokriewe boeke wat in die Katolieke Bybel voorkom ook ingesluit is. Prof. Jordaan verduidelik: “Die Apokriewe boeke was ook by die Statevertaling ingesluit. In Suid-Afrika het die Rooms-Katolieke Kerk oor die afgelope jare ‘n sterk Afrikaanssprekende komponent begin bykry. Van hulle verkies om die Bybel in Afrikaans te lees, maar het tog ‘n behoefte aan die Apokriewe boeke. Uiteindelik bestaan die Afrikaanse 2020-vertaling van die Bybel uit drie uitgawes. Die Bybel wat 27 boeke het (sonder die Apokriewe boeke), die Bybel wat die Apokriewe boeke insluit en die uitgawe waar die Messiaanse tekste in die Ou Testament met ’n hoofletter gedruk is. Voorbeelde hiervan is die Loot wat uitgespruit het, die Kneg en die Kind wat gebore sal word, wat alles heenwys na die Messias in die Nuwe Testament. Sommige mense het aangedring dat dié woorde met hoofletters geskryf word, hoewel dit nie so in die oorspronklike Hebreeus voorkom nie. “In die oorspronklike teks word dit nie met ‘n hoofletter geskryf nie en ons het ooreengekom dat die vertalers nie moet interpreteer nie. Nogtans het die Bybelgenootskap besluit om ‘n afsonderlike “Hoofletter-uitgawe” te verskaf vir mense wat dit so verkies.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button