NewsNews

Derde historiese gebou in puin

Derde historiese gebou in puin

Die 19de-eeuse smidswinkel wat deel is van die gebou-kompleks op die terrein van die President Pretoriusmuseum (PPM) het gister (29 Oktober) in duie gestort.

Potchefstromers is al vuisvoos met die reeks ongelukkige gebeure aan hul historiese gedenkwaardighede. Vroeër vanjaar moes inwoners toekyk hoe die offisierswoning (1913) op Witrand se terrein en die eeue oue stasie-gebou in Piet Bosmanstraat afbrand.

“Oomblikke voordat die kurator van die Potchefstroomse Museum, Elmarie Weyers, my geskakel het om te sê die restourasieprojek van die smidswinkel is amptelik goedgekeur en dat daar dadelik met die werk begin gaan word, het die gebou inmekaar geval”, sê ‘n verdwaasde Johan Wolfaardt, vakkundige van die President Pretoriusmuseum.

Volgens die kultuurhistorikus van die Potchefstroomse Museum, Miems Lamprecht, was dit as gevolg van die hout stutpaal in die middel van die gebou wat gekraak het. Volgens Lamprecht het Wolfaardt die strukturele probleem vroeg in Oktober aan haar gerapporteer. Wolfaardt is tans die voorsitter van die Erfenis Stigting Potchefstroom, ‘n organisasie wat omsien na die bewaring van ou geboue in Potchefstroom.

Johan Wolfaardt is besig om implemente van die smidswinkel tussen die bourommel te verwyder. Foto: Venessa van der Westhuizen

Lamprecht sê hulle het dadelik die senior tegniese ingenieursbeampte van die munisipaliteit geraadpleeg: “Mnr. Noah Lechele was baie behulpsaam en het dadelik saam met ons ʼn inspeksie gedoen.  Daar is vasgestel dat die dak begin sak het en dit die mure van die smidswinkel sywaarts gedruk het. Die plan was om die gebou eers met ‘n staalstruktuur te verstewig voordat die restourasieprojek aangepak kon word”, sê Lamprecht.

Volgens Lamprecht sal die smidswinkel na sy oorspronklike glorie gerestoureer word. Die museum se volgende stap is om die bourommel te verwyder en te berg sodat die restourateurs so ver moontlik weer die oorspronklike boumateriaal kan gebruik. Al die implemente wat in die smidswinkel geberg was, sal ook versigtig verwyder word.

“Ongelukke gebeur in drieë. Ons hoop nou dat die smidswinkel ‘n einde sal bring aan die ongelukkige gebeurtenisse met die historiese geboue in Potchefstroom”, sê Miems Lamprecht.

  • Die PPM is rondom 1868 deur President Marthinus Wessel Pretorius opgerig. Pretorius was die eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Die kompleks bestaan uit ʼn woonhuis wat in die Kaapse styl gebou is asook buitegeboue wat ʼn waenhuis, stal en smidswinkel insluit. Die president was bekend daarvoor dat hy ook as grofsmid gewerk het en veral die ysterbande rondom wawiele gekort het. Die PPM vorm trots deel van Potchefstroom se ou geskiedenis en baie oorseese besoekers en skoolgroepe  besoek jaarliks die museum om meer van die tradisionele 19de-eeuse gebruike te leer.

Related Articles

Back to top button