NewsNews

Vriend in hof na moord op vriendin (36)

Vriend in hof na moord op vriendin (36)

 

Net ’n week na die moord op die 15-jarige Edwinah Bolosha van Schonkenville, is ’n 36-jarige vrou van Mokwallo, Morrine Xoliswa Mcosana (Meme) die afgelope naweek vermoor. Haar 38-jarige vriend is by sy huis deur die polisie in hegtenis geneem en moes vandeesweek op ‘n klag van moord in die landdroshof in die dorp verskyn. Die oorledene en die verdagte het drie kinders. Volgens een van die gemeenskapsleiers, George Rooi, het Meme en haar vriend Vrydag by sy huis gekuier. Hulle is ook Saterdag saam in die dorp gesien, maar het oënskynlik ’n uitval gehad. Hulle is glo daarna terug na sy huis.

Sondagoggend het Meme se tannie, Maria Booi, die ambulans voor die man se huis gesien en is sy meegedeel dat Meme oorlede is. Ambulanspersoneel het Meme op die toneel dood verklaar. Sy het kopbeserings gehad. Meme word oorleef deur haar ouers en vier kinders, van wie die jongste 3 jaar is.

In nog ’n voorval in Mokwallo die naweek ondersoek die polisie ’n voorval van seksuele aanranding op ’n jong meisie. ’n Verdagte is met die hulp van die gemeenskap in hegtenis geneem en moes ook vandeesweek in die hof verskyn. Volgens Rooi is die gemeenskap ontsteld oor die voorvalle van geweld teen vroue en kinders, en voel hulle dat nie genoeg gedoen word om oortreders vas te trek en aan die pen te laat ry nie. Daarom sê Rooi sou die families van die slagoffers, gemeenskapsleiers en lede van die publiek dié week na die polisiestasie in Vredefort gaan om te vra dat daar nou opgetree word om geweldsmisdade stop te sit. * Edwina Bolosha, die tienermeisie van Schonkenville, se liggaam is sowat ’n kilometer van haar ouerhuis in ’n oop stuk veld by die begraafplaas onder ’n hoop klippe gevind. Haar 26-jarige vriend sou vandeesweek weer vir ‘n formele borgaansoek in die hof verskyn.  

Related Articles

Back to top button