NewsNews

SMS-boodskappe moes vriendin vir dae op dwaalspoor plaas

Met selfoonboodskappe soos dat hy ’n lekker kontrak (in Bethlehem) losgeslaan het, maar dat die sein sleg is, en hul later weer sou praat, is daar probeer om Ella van der Schyff om die bos te lei dat alles pluis was.

Met selfoonboodskappe soos dat hy ’n lekker kontrak (in Bethlehem) losgeslaan het, maar dat die sein sleg is, en hul later weer sou praat, is daar probeer om Ella van der Schyff om die bos te lei dat alles pluis was. Maar die paar SMS-boodskappe wat deur sakeman Craig Marx se moordenaars aan haar gestuur is, het in plaas daarvan om haar gerus te stel, haar ongemaklik en bekommerd gemaak  oor wat aan die gang was. Skielik was dit nie WhatsApp-boodskappe waarmee hulle altyd gekommunikeer het nie, maar SMS-boodskappe met spelfoute wat ook nie in sy aard was nie. Geen oproepe van hom en geen antwoord op haar boodskappe.
Só het Van Der Schyff  Dinsdagoggend in die Hoëhof voor waarnemende regter Lani Opperman getuig in die verhoor van die vier wat tereg staan op Marx se moord en roof met verswarende omstandighede.
Alle aanklagte teen die 18-jarige André Kruger wat voorheen ook aangekla is, is Maandag laat vaar en sal hy as staatsgetuie optree ingevolge ’n  pleitverduideliking. Hy was minderjarig ten tyde van die moord. David Kuyler (19) het Dinsdagoggend skuldig gepleit op beide aanklagte, terwyl Nickolai van Aswegen (18) skuldig gepleit het op die klag van roof maar onskuldig op die klag van moord. Hy was ook minderjarig ten tyde van die moord. Nicholai se broer, Koenraad (JR) van Aswegen (22) en hul pa, Koenraad sr. (53), het onskuldig op beide klagtes gepleit.
Van der Schyff wat vir vier jaar ’n  verhouding met die oorledene gehad het, het getuig dat Marx die Smilin Thru-oord bestuur het, maar dat sy huurooreenkoms kort voor sy dood opgesê is en hul dorp toe getrek het. Koenraad en JR het vir Marx by Smilin Thru gewerk en hulle ook gehelp met die trek na Parys na die beëindiging van die huurooreenkoms, asook herstelwerk by die huis. Marx het hulle so goed geken dat hy selfs geld aan Koenraad sr. geleen het wat op 2 November 2014 terugbetaal moes word.
In die pleitverduidelikings is getuig hoe Kruger, Marx op 4 Desember onder valse voorwendsels na Kuyler se ouers se woonhuis in St Janstraat gelok het, glo om na ’n  pomp te kom kyk , waar hy “reggesien” sou word omdat Koenraad en JR na bewering deur hom geviktimiseer is. Die plan was om hom aan te rand en te beroof, maar die plan het skeefgeloop.
Die pleitverduidelikings vertel hoe hy met ’n  ysterpyp aangerand is, met toue vasgebind en   plastieksakke oor sy kop, bene en middellyf getrek is wat met kleefband vasgemaak is. Luidens die nadoodse ondersoek het hy waarskynlik versmoor. Tydens die aanranding is hy gevra vir sy bankkaart en pinnommer, en toe die nommer wat hy gegee het verkeerd blyk te wees, is hy verder aangerand
Hy is agterop die Triton bakkie waarmee hy gery het gelaai en toe in ’n  stormwaterdreineringspyp langs die Kopjeskraalpad versteek.
Marx se liggaam is eers twee weke nadat hy verdwyn het gekry, nadat uitwysings deur Kruger en Kuyler gedoen is. ’n  Strokie van ’n  vulstasie in Potchefstroom wat in die bakkie gekry is, het die polisie op die spoor van die verdagtes gesit, en is hulle geïdentifiseer danksy kringtelevisie beeldmateriaal van die vulstasie en  die bank waar geld uit Marx se rekening onttrek is. Die bakkie is op 6 Desember versteek in die begraafplaas gekry.  Met die meer as R20 000 wat uit Marx se bankrekening getrek is, het die mans onder andere Xbox’e en iPads gekoop net nadat Marx se liggaam versteek is. Nadat Koenraad sr. aan die polisie vertel het dat Marx deur Al-Kaïda ontvoer is, is die hulp van kapt. Francois Laux van die Vrystaatse Valke-eenheid vir georganiseerde misdaad ingeroep. Die drie Van Aswegens is in Odendaalsrus opgespoor ná die uitwysings deur Kruger en Kuyler. Hulle het in ’n  buitelander se winkel geskuil. Adv. Danie Pretorius kla aan, terwyl adv. Danie Swanepoel namens Kuyler verskyn, en adv. L. Setouto vir Nicholai  verdedig. Dr. Pieter Nel van Regshulp SA tree op vir beide Koenraad en JR. Die verhoor duur voort.

Related Articles

Back to top button