NewsNews

Molen Kórus hou virtuele oudisies

Molen Kórus hou virtuele oudisies

Ten spyte van die streng maatreëls rondom sing, het Molen Kórus besluit om steeds met oudisies voort te gaan. Dié keer word dit net virtueel gehou.

“As die lewe vir ons ‘n pandemie gee, dan hou ons aan met sing!” So glo die koorlede van Molen Kórus. Nie eens die Covid-19 virus kan die gees van die bekende Potchefstroomse kamerkoor blus nie.

Ten spyte van die streng maatreëls rondom sing, het hulle besluit om steeds met oudisies voort te gaan. Dié keer word dit net virtueel gehou. Diegene wat in die Potchefstroom-omgewing woon, ‘n nagraadse student of werkende is en graag deel van hierdie besonderse koor wil word, word genooi om ‘n opname of stemnota te maak.

Deelnemers kan enige lied van hul keuse sonder begeleiding (a Capella) sing. Stuur dit teen 31 Oktober per WhatsApp na 072 375 0052. Oudisielede sal daarna gekontak word.

Molen Kórus, onder leiding van die bekwame Kobus Venter en Loretté du Toit, het in 2011 ontstaan toe ‘n groep oud-Pukkoorlede besluit het dat hulle graag na hulle studies steeds hul sangtalent met plaaslike gehore wil deel.

Die koor is vernoem na die bekende Molenstraat, in die hartjie van Potchefstroom, waar die koor weekliks oefen. Koorlede bestaan hoofsaaklik uit nagraadse studente en werkende individue met uiteenlopende belangstellings. Tog het almal een ding in gemeen: ‘n liefde vir hoë gehalte koorsang.

Die koor streef daarna om ‘n hoë musikale- en tegniese standaard te handhaaf en lede word daarvolgens gekies. Hoewel Molen Kórus welbekend is onder Potchefstromers, het die koor ook al nasionale en internasionale gehore met hul unieke klank bekoor.

In 2015 is die koor as die wenners in die kategorie vir kamerkore, asook as algehele wenners van die ATKV Internasionale Animato koorwedstryd aangewys. Die koor het ook reeds aan verskeie Aardklopproduksies deelgeneem en het in 2015 ‘n CD-opname met Awie van Wyk se mees bekende komposisies vrygestel. Hulle het ook DVD-klankopnames van die digter T.T. Cloete se Psalmomdigtings gemaak.

Verder het die koor in 2018 goue toekennings in al drie hul kategorieë (ope-kategorie afdeling) by die Interkultur Wêreldkoorspele in Pretoria verower en is hul ook telkens as kategoriewenners bekroon.

Al is die toekoms van publieke optredes vir 2021 nog onseker, beplan Molen Kórus nogtans verskeie opwindende projekte nou dat die beperkings op byeenkomste verslap is. Dié beoogde projekte sluit plaaslike- en buitestedelike optredes, ‘n kamerkoorfees en tienjaarsbestaansvieringe in.

Vir meer inligting, besoek die koor se Facebookblad, skakel vir Christel by 082 566 4229 of stuur ‘n e-pos aan molenkorus@gmail.com.

Related Articles

Back to top button