News

OTM-misdaad en huisbrake wek kommer

OTM-misdaad en huisbrake wek kommer

Verskeie voorvalle is die afgelope week weer gerapporteer waar daar by OTM’s by banke, maar ook in sentrums in die dorp gepeuter is.
Die polisie vra dat mense asseblief bedag sal wees op enigiets vreemds wat by ’n OTM opgemerk sou word, en om dit dadelik aan die bank of polisie te rapporteer. As daar enigiets is wat jou onraad laat vermoed, MOENIE die OTM gebruik nie.

Hou die volgende veiligheidswenke in gedagte:
1. Bedek die sleutelbord met jou hand wanneer jy jou pinnommer insleutel, selfs al sou jy alleen by die OTM wees.
2. Moet nooit hulp aanvaar of vra dat iemand jou help by die OTM nie. Gaan vra liewer hulp in die bank.
3. Registreer vir “3D secure” ook bekend as Verified, by Visa of MasterCard SecureCode voordat jy aanlyn aankope met jou bankkaart doen.
4. Wees versigtig vir kennisgewings dat jy ’n kompetisie gewen het, veral as jy weet jy het vir geen kompetisie ingeskryf nie. Moenie reageer op versoeke om jou persoonlike inligting te gee nie.
5. Dra so min moontlik kontant aan jou en moet beslis nie jou pinnommer neerskryf en in jou beursie ronddra nie.
6. Gebruik alternatiewe bankmetodes soos internet of selfoon bankdienste.
7. Sou jou bankkaart sukkel om in die OTM-kaartgleuf in te gaan, moet dit nie forseer nie. Bes moontlik is met die OTM gepeuter.
8. Gebruik eerder die OTM bedags wanneer daar beweging is, as na 17:00 wanneer dit stil en donker in die omgewing van OTM’s is, en sentrums verlate.

Huisbrake:
Huisbrake bly steeds ’n groot bron van kommer in die dorp – saans, maar ook bedags. Dikwels is dit kleiner goed van minder waarde wat weggedra word, soos stoepmeubels, grassnyers ensovoorts, maar misdaad bly misdaad, hoe gering ookal.
Onthou daarom dat jy diefstal moet rapporteer by jou naaste polisiestasie – ongeag hoe min jou skade.
Om ’n saak te rapporteer is beslis nie net om ’n saaknommer vir jou versekering te kry nie. Wanneer misdaad gerapporteer word, help dit die polisie om vas te stel in watter areas misdadigers bedrywig is, en wat die tendense is.
Dit help om polisie- en buurtwagpatrollies meer spesifiek te taak in sekere gebiede waar daar probleme is.
Hierbenewens is akkurate misdaadstatistiek nodig om seker te maak jou polisiestasie kry voldoende voertuie en personeel. As misdaad nie gerapporteer word nie, is daar duidelik nie meer mannekrag of voertuie nodig nie. Dus kan die publiek se rapportering van sake inderdaad help om die polisie se hand te sterk.
Onthou ook dat ongeag hoe mobiel jy is, jou ouderdom of waar jy bly – deur bloot net waaksaam te wees en verdagte bewegings en voertuie in jou omgewing te rapporteer, kan jy die polisie help om misdadigers vas te trek, maar maak seker jy kan ’n akkurate beskrywing van die voertuig of persoon gee.

Let op na:
1. Kleredrag
2. Lengte, liggaamsbou en opvallende kenmerke soos tatoeërmerke, ‘n handelsnaam op ’n pet, ensovoorts
3. Voertuigmodel, kleur en registrasienommer.
4. Spesifieke aanduiding waar die persoon gesien is of patroon van beweging.
Kry jou bure se telefoonnommers en vra wanneer jy onseker is oor iets wat jy sou opmerk – ’n oop motorhuisdeur, vreemde bewegings by ’n huis as jy weet jou bure is beslis nie daar nie, honde wat aanhoudend blaf – dit alles kan daarop dui dat dinge dalk nie pluis is nie.
Moet nooit self probeer om misdadigers of selfs ’n verdagte persoon te konfronteer nie. Gee eerder akkurate inligting deur aan die polisie of jou sekuriteitsmaatskappy.
Aktiveer jou alarm ook saans en moenie altyd dieselfde roetine hê of dieselfde roete ry nie.
Hekmotors is nou ’n groot teiken. Maak daarom seker jy beveilig jou hekmotor op die beste manier moontlik (verkieslik nie met ’n slot wat net geknip kan word nie).
Die afgelope week is twee voertuie ook op een dag in die dorp gesteel. Maak seker jy sluit jou motor, jou vensters is toe, en dat jy geen waardevolle items in jou motor los nie.
Weet dat misdadigers jou altyd een voor is – jou waaksaamheid moet daarom skerp wees.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button