
Marné Prinsloo is vanoggend baie ernstig beseer in ‘n motorongeluk by die kruising van Unie- en Kortstraat. Sy is in ‘n kritiekte toestand eers per ambulans, en toe met ‘n noodhelikopter na die Netcare Milpark-hospitaal se trauma-eenheid in Johannesburg vervoer met onder meer ernstige kopbeserings, bloeding op die brein en skade aan haar rugwerwels. Sy sal tot Vrydag onder sedasie gehou word en is die volgende paar dae kritiek.
Die ongeluk het vanoggend net na 08:00 gebeur.
Marné was alleen in die motor toe haar voertuig by die kruising die bakkie van Sybil Joubert getref het, en met die impak van die botsing teen ‘n boom tot stilstand gekom het. Sybil is nie in die ongeluk beseer nie.
Marné is die dogter van Henk en Rhona Prinsloo van Parys. Inwoners in die omgewing waar vanoggend se botsing gebeur het, sê hierdie is die soveelste ernstige ongeluk by die kruising waar een van die stoptekens al vir langer as 6 jaar sover hulle kan onthou, skitter in sy afwesigheid.

Die gat regs van die paal is waar die stopteken moes wees op die h/v Unie- en Kortstraat.
Danie Steenkamp wat gereeld in die omgewing stap, het aan Gazette gesê dat hy kwalik ‘n maand gelede die gevaar van die kruising onder die munisipaliteit se aandag gebring het. Een van sy bure was ongeveer 2 maande gelede ook by dié kruising in ‘n botsing betrokke, en was hyself ooggetuie van ‘n noodvoertuig wat hier rakelings ‘n voertuig by die kruising gemis het. Gazette het ‘n maand gelede berig oor die toestand van padtekens in Parys, waarvan sommige nie meer leesbaar is nie, toegegroei of totaal afwesig. AfriForum Parys het wel al verskeie padtekens op hul koste vervang, maar is dit nog net ‘n druppel in die emmer met padmerke wat naas die padtekens ook dringende aandag kort.

Die foto van ‘n woordelose padteken is ‘n maand gelede in Parys Gazette gepubliseer.
Dankie aan elkeen wat vanoggend hulp op die botsingstoneel verleen het en die familie ondersteun. 



