NewsNews

Oorsaak van student se hartaanval bekend

Oorsaak van student se hartaanval bekend

 

ʼn Superfiks en gesonde regsstudent aan die Noordwes Universiteit, Ruan van der Merwe (22), is verlede Dinsdag, 29 September, skielik aan ʼn hartaanval dood. Hy was in die finale jaar van sy LLB-studies en die enigste kind van Marius en Linda van der Merwe wat in Gauteng woon. Volgens Linda het die dokters wat sy lewe verlede Maandag by die Life Anncron Hospitaal in Klerksdorp probeer red het ʼn bloedklont in een van die drie hoofslagare gevind wat die bloedtoevoer en suurstof na sy hart gekeer het. Hulle het die bloedklont verwyder en die hartspier probeer stimuleer, maar dit was te laat. Volgens die dokter moet so ‘n bloedklont binne drie minute verwyder word of die hartspier sal doodgaan. Linda sê die dokters was twee ure met hom besig.

 

Die dokters het aan Linda vertel dat ‘n mens nie met sekerheid kan sê wat die bloedklont veroorsaak het nie: “Hulle sê ‘n mens kan net daaroor spekuleer. ‘n Klein skeurtjie in sy aar kon byvoorbeeld met sy gewigoefening in die gym gevorm het en dit kon die bloedklont gevorm het”, sê Linda. Ruan was onder sy vriende alombekend as Crunchy – ʼn bynaam wat hy by sy rugbyafrigter in graad een gekry het. Volgens sy ma was dit omdat sy goudblonde hare hom aan die binnekant van dié tjoklit laat dink het.

 
 

‘n Sagmoedige reus. Dit is hoe Charlene Potgieter (20) haar geliefde Ruan van der Merwe beskryf. Sy skoolliefde het die traumatiese gebeure vooraf met hom meegemaak en sê dat alles vir haar steeds onwerklik voel. Volgens die mediawoordvoerder van die NWU, Louis Jacobs, was Ruan ‘n toegewyde, skrander student wat in die tweede helfte van die jaar sou deelneem aan ‘n uitruilprogram met ‘n Belgiese universiteit. Weens Covid-19 het dit nie gerealiseer nie. Charlene ken Ruan al van skooldae af. Hulle was saam op Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg. Sy studeer B.Com Regte ook aan die NWU. Vanjaar was hulle sewe jaar saam. Hulle was onafskeidbaar en het saam geoefen en drie keer per dag saam kos gemaak.

Ruan van der Merwe en Charlene Potgieter. Foto: Verskaf

“Hy was baie fiks en gesond. Ons het ses dae van die week saam crossfit gedoen. Dit was juis na een van hierdie crossfit-sessies dat hy Maandag na die oefening gesê het hy het hard geoefen, want hy is lekker moeg. Hy het later gesê hy voel nie lekker nie en het van ‘n steekpyn en drukking op sy bors gepraat,” sê Charlene wat hom probeer oorreed het om hospitaal toe te gaan. Sy sê dat hy al twee keer in die verlede, nadat hulle geoefen het, van borspyn gekla het, maar dat dit weer na ‘n minuut opgeklaar het. Ruan het gedink dit sal weer beter word. “Ek het die simptome ‘ge-google’ en het hom weer probeer oorreed om ongevalle toe te gaan. Toe die pyn nie beter word nie, het hy ingestem,” vertel Charlene verder. Sy sê by die ongevalle-eenheid was hy baie duiselig en moes hy in ‘n rolstoel sit. “Die dokter wat hom ondersoek het, het gesê dit lyk asof hy besig is om ʼn hartaanval te kry en dat hy hom eerder na ‘n kardioloog in Klerksdorp wil oorplaas,” sê Charlene. Sy vertel dat sy nie saam in die ambulans kon ry nie, maar het met haar eie voertuig agterna gery. “Toe die ambulans by die Life Anncron Hospitaal in Klerksdorp stop, is hy dadelik teater toe. Een van die nooddienspersoneellede wat saam in die ambulans gery het, het sy foon vir my gebring en gesê sy toestand is ernstig,” vertel Charlene. Hospitaalpersoneel het gesê sy sal hom eers die volgende dag met besoektyd weer kan sien, daarom het sy besluit om weer terug te gaan Potchefstroom toe. “Ek was nie lank in Potch nie, toe ek ‘n oproep van ‘n dokter kry wat Ruan se ouers se telefoonnommers gevra het. Hy het gesê Ruan se toestand is kritiek. Ek kon nog onthou toe hy vir my gesê het: ‘You guys need to pray for him’, sê Charlene. Sy het haar ouers ook gebel wat dadelik deurgery het Klerksdorp toe. By die hospitaal was net Ruan ouers toegelaat om met die dokters te praat. Ruan se ma vertel dat die dokter hulle buite die intensiewesorgeenheid ontmoet het en dadelik vir hulle gesê het hulle moet sit: “Ek het al ʼn verlammende gevoel gehad toe die dokter ons in die motor op pad hospitaal toe bel om te hoor hoe ver ons is. Hy wou ook by Ruan se pa weet of hy alleen is en of daar iemand by hom is. Voor die oproep was ek nie so bekommerd nie, want ek het gedink hy sal reg wees – hy is dan so jonk, sterk en fiks.

Ruan en sy ma, Linda van der Merwe. Foto: Verskaf

“Die dokter het ons toe meegedeel dat Ruan dit nie gemaak het nie. Dit is verskriklike nuus om te ontvang. Dit het gevoel asof my hele lyf lam word. Ek kon nie ʼn woord uit kry nie. Dit is asof jou hele binneste begin ruk. Die dokter het aan ons verduidelik wat gebeur het, maar ek kon niks inneem nie. Ek hom weer later gebel om te hoor wat die oorsaak van sy dood was”, vertel Linda. “Die dag met sy begrafnisdiens was die moeilikste van my hele lewe, maar ek vind vertroosting daarin dat hy ʼn baie gelowige persoon was en dat sy vriende sulke wonderlike herinneringe van hom gehad het. Hulle het baie na hom opgekyk en het graag vir hom raad gevra omdat hy so ʼn goeie luisteraar was.” Linda het verder gesê haar seun was haar hele lewe en dat sy so trots op hom was. Ruan se meise, Charlene vertel dat hy die vriendelikste mens was wat altyd ‘n geselsie met vriende aangeknoop het. “Ek moes altyd ‘n halfuur ekstra beplan as ons dorp toe gaan, want hy het met almal gesels. Hy was saggeaard en liefdevol en die slimste mens wat ek ken. Hy het vanjaar vir vyf van sy sewe vakke onderskeidings gekry. Hy was nuuskierig en het altyd dinge wat hom interesseer, opgelees. Ons het so baie dinge saam beplan.” Ruan se troosdiens het Woensdagoggend vanuit die NG-gemeente Differentia in Boksburg plaasgevind.

Ruan van der Merwe en Charlene Potgieter. Foto: Verskaf

Lees die oorspronklike berig hier
https://potchefstroomherald.co.za/78921/oorsaak-van-student-se-hartaanval-bekend/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button