NewsNews

Bejaardes in penarie na hulle trekpas kry

Bejaardes in penarie na hulle trekpas kry

VEREENIGING. – Bejaarde inwoners van Wag-‘n-Bietjie Hof-kamers by die Drie Riviere Aftreeoord staar ’n onsekere toekoms in die gesig nadat hulle onlangs per brief in kennis gestel is dat hulle teen 31 Januarie 2021 alternatiewe blyplek sal moet vind.

 

Wag-‘n-Bietjie Hof is ’n gebou by die Drie Riviere Aftreeoord wat oorspronklik langs die munisipale swembad in Drie Riviere gestaan het, maar in kamers vir ouer mense omskep is. Die kamers bied bekostigbare verblyfeenhede vir hoofsaaklik bejaardes wat staatstoelaes ontvang. In die brief wat aan Vaalweekblad gewys en deur Hanno Bekker namens die Northern Conference Development Trust (NCDT) – die eienaar van die ouetehuis – uitgereik is, gee die skrywer te kenne dat die strukturele integriteit van die gebou gekompromiteer is deur jare van agteruitgang en swak bouwerk. Die NCDT is deur die Noordelike Konferensie van die Sewende-dag Adventiste Kerk geskep. “As eienaars van die gebou het die NCDT ’n ingenieur gevra om die stand van die strukturele integriteit vas te stel. “Die sertifikaat wat uitgereik is, het ons vrese (oor die stukturele integriteit van die gebou) bevestig,” lui ’n uittreksel uit die brief. Dit is egter nie die enigste rede wat aangedui word waarom oues sal moet uit nie. Tweedens word daar aangevoer dat die NCDT ’n reuse finansiële terugslag beleef het deurdat die inperking die NCDT verhoed het om lewenslange okkupasiereg by eenhede in sy aftreeoorde te bemark en te verkoop. Personeel moes glo ook afgedank word en die trust moes sy sakemodel aanpas om kop bo water te hou in ’n drasties veranderende ekonomiese omgewing. Volgens die brief het omstandighede die NCDT genoop om eerder kapitaaltoelaes aan liefdadigheidsorganisasies bo die verskaffing van behuising aan Sassa-pensioenarisse te kies.

 
Brenda van Wyk, die dogter van Ann Schoonraad (op die foto), se senuwees is klaar. Sy weet nie waar haar ma gaan woon as sy nie langer by Wag- ‘n-Bietjie Hof se kamers by Drie Riviere Aftreeoord kan woon nie.

Inwoners is derhalwe tot 31 Januarie tyd gegun om nuwe verblyf te vind. Vaalweekblad verstaan daar is sowat 19 oues wat tans in die kamers woon, maar dat nie almal van hulle noodwendig Sassa pensioenarisse is nie. Brenda van Wyk, ’n kind van een van die inwoners, het aan Vaalweekblad gesê sy is raadop en weet nie waar om haar ma, Ann Schoonraad, te plaas nie. “Ek kyk ook op die oomblik na moontlike alternatiewe,” het sy gesê. Gerrie Hadders, voorsitter van die Drie Riviere Aftreeoord, het bevestig wat in die brief gestaan het, naamlik dat die gebou stuktureel onveilig vir oues verklaar is. Hy het ook laat weet dat hoewel talle van die pensioenarisse wat tans daar woon wel maatskaplike toelaes (Sassa-toelaes) ontvang, daar ook inwoners is wat nie noodwendig toelaes ontvang nie. Volgens hom is daar kontrakte met die inwoners gesluit wat soos enige huurkontrak tussen huurder en verhuurder is. Hy het verdere navrae na Hanno Bekker van die NCDT verwys. Bekker het nog nie op Vaalweekblad se navrae reageer nie. Vaalweekblad onderneem om die NCDT se kommentaar oor die aangeleentheid te plaas sodra dit beskikbaar is.

 
https://vaalweekblad.com/75798/bejaardes-in-penarie-na-hulle-trekpas-kry/
 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button