NewsNews

Geen water…geen antwoorde

Geen water...geen antwoorde

Tot groot woede van inwoners was die krane in Parys, Tumahole en Schonkenville verlede week weer dag na dag sonder water, en dit sonder enige waarskuwing of inligting vooraf van die munisipaliteit.
Dit, ten spyte van die munisipale bestuur se beloftes dat die publiek gereeld op hoogte gehou sal word, sou daar probleme met watervoorsiening wees, met die vorige keer se waterlose naweek fiasko.
Talle inwoners het ook gekla dat die nommers waarheen hulle klagtes moes deurgee, dikwels nie beantwoord is as daar gepoog is om droë krane te rapporteer nie, of beamptes het nie antwoorde gehad vir die redes waarom daar dié keer weer nie water was nie, het Andries Vrey, DA-raadslid vir wyk 12 gesê.
Volgens rdl. Vrey het albei die waterpompe by die dorp se watersuiweringsaanleg klaarblyklik vroeg verlede week gebreek. “Terwyl gewag is op ’n kontrakteur van Klerksdorp om die pompe te kom herstel, het die opgaardamme leeg geloop, en watervoei na Parys, Tumahole en Schonkenville opgedroog.
Hy sê hy kon met moeite vasstel wanneer die pompe herstel is, maar net ure nadat hy op sosiale media inwoners kon inlig dat die pompe werk, het die pompe weer gaan staan en krane weer leeggeloop van dié wat toe darem al gelukkig was om water te kon hê.
Vrey sê dat verlede week se waterkrisis ’n skandalige refleksie is op Ngwathe se munisipale administrasie. “Ons kry gebrekkige inligting, of soms selfs geen inligting. Dit terwyl die publiek ’n grondwetlike reg het op tydige en akkurate inligting.
Die knaende waterkrisis is nie net onuithoudbaar vir inwoners nie, maar ook besighede wat reeds in moeilike ekonomiese tye moet oorleef.
Die DA raadpleeg nou onafhanklike kenners oor die dorp se knaende waterprobleem omdat die DA-koukus nie oortuig is dat Parys se wateraanleg tans effektief bestuur word nie. Daar word met onafhanklike konsultante gepraat om dit op die DA se koste te evalueer. Agtergrondinligting is reeds van die munisipaliteit aangevra.
Dankie aan die plaaslike AfriForum-tak, en We Care wat hande gevat het met die DA om Vrydag en Saterdag water aan te ry na veral bejaarde inwoners. Rdl. Vrey het ook sy dank uitgespreek teenoor mnr. Saal de Jager wat sy boorgat beskikbaar gestel het vir dié doel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button