HealthLifestyle

Die breinwetenskap van die skep van geluk en welstand

Die breinwetenskap van die skep van geluk

Die hooffunksie van die brein is om ons te help om die dag te oorleef en ons lewend en gesond te hou vir die dag van môre, maar wetenskaplikes het ’n paar planne om jou in staat te stel om gelukkiger te wees en ten volle te lewe.

 

Dit is nou meer as ooit tevore nodig dat ons as mense gelukkig en gesond moet wees, maar die brein se primêre doelwit is om ons veilig te hou. Die hooffunksie van die brein is om ons te help om die dag te oorleef en ons lewend en gesond te hou vir die dag van môre, maar wetenskaplikes het ’n paar planne om jou in staat te stel om gelukkiger te wees en ten volle te lewe. Prof Pieter Kruger van die Noordwes-Universiteit (NWU), ’n kliniese sielkundige en direkteur van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie, en sy kollega, dr Greg Lamb, ’n pediatriese neuroloog en senior lektor by die Instituut vir Sielkunde en Welstand, deel interessante feite oor hoe die brein afgerig kan word om geluk en welstand te genereer.

 

“Die brein sal baie tyd in ’n basiese oorlewingsmodus spandeer. Vir ons om die volgende stap veilig aan te pak, moet die brein vooruit weet wat ons doen en vinnig voorspel wat dalk volgende kan gebeur. Voorspellings vereis egter besonderhede, en daarvoor maak die brein staat op ’n bepaalde deel wat die hippokampus, of die primêre geheuesentrum, genoem word. Om vinnig sin te maak van die wêreld en akkurate voorspellings te maak, moet die brein twee primêre vrae beantwoord, a) Is ek veilig?, en b) Wat is my doel? Die brein kan nie hierdie vrae vinnig beantwoord nie – dit skep ongemak of angs en plaas ons in die bedreiging-moniteringsmodus,” sê prof Kruger.  

 
 

Is ek veilig?  

Gedetailleerde voorspellings vereis stadige en inspanningsvolle denke, ’n proses waarvoor jou brein nie tyd (of soms energie) het nie. Hoewel die brein min of meer 2% van jou totale liggaamsgewig uitmaak, kan dit tot 25% van die kalorieë verteer wat jy daagliks gebruik. Hoe meer tyd jy dus aan stadige, inspanningsvolle denke bestee, hoe meer energie kan jy moontlik verbruik. Prof Kruger sê as die brein probeer om energie te bespaar, dit sal probeer om nie te veel tyd in hierdie denkmodus te bestee nie. “Die voorspellings wat die brein probeer maak, kom in die dorsale area van die hippokampus voor waar inligting wat te doen het met landskappe, stadsbeelde, topografie, mense, voorwerpe, en artefakte in die omgewing verwerk en opgeneem word. Vir hierdie akkurate en analitiese geheue om gekonsolideer te word, moet die individu in beweging wees, nie net met betrekking tot eksplorasie en navigasie in die omgewing nie, maar ook ten opsigte van die bevordering van interpersoonlike verhoudings en vooruitgang in die lewe.” Wat dit in die praktyk beteken, sê hy, is dat wanneer jy in werklikheid fisiek begin beweeg (soos wanneer jy stap), hierdie deel van die brein gestimuleer word en dan beter funksioneer. Dit behels egter ook vordering ten opsigte van die wyse waarop ons met ander mense en die lewe self omgaan, wat ook ’n stimulerende uitwerking op hierdie deel van die brein het. “Daar moet deurlopende innerlike rotasie of beweging in die bewuste denke wees, met ander woorde, ons moet by verskillende aktiwiteite en ervarings betrokke wees om ons gelukkig en gesond te hou. En wanneer die dorsale hippokampus (die goeie deel van die geheuesentrum) aangeskakel word, vereis dit so ’n intense fokus en impulsbeheer van die brein se denksentrum (prefrontale korteks) dat die werklike poging vir die taak wat onderneem word met ’n tasbare verkorting in die geassosieerde persepsie van tyd beloon word. Kortom, wanneer jy betrokke is by iets wat jy doen en dit geniet, sal die tyd baie vinnig omgaan. Wanneer ’n ervaring nuut en interessant is, geniet die brein dit en word dit makliker om te leer.”  
 
Wat is my doel?  
Die voorspellings wat in die oomblik uitgevoer word en ons vermoë om bedreigings en uitdagings te hanteer, hang baie af van die ervaring van die self, sê prof Kruger. Wie is ek en wat is my doel in die lewe? Voel ek of ek toegerus is om dinge te hanteer en in die lewe te vorder, of stagneer ek met geen einde in sig nie? “Gedagtes en oortuigings oor die self speel ’n baie belangrike rol in ons geluk en welstand. Ons gebruik dikwels ervarings van die verlede om sienings oor die self te vorm, wat ’n groot impak kan hê op die manier waarop ons onsself in verskillende situasies waarneem. Ervarings van die verlede kan vir ons ’n mate van tevredenheid en gevoel van prestasie gee, maar sal nie welstand en geluk in die toekoms waarborg nie. Jy sal uiters depressief raak in selfs die wonderlikste, goudbeslaande paleisagtige vertrek in die wêreld as jy besef dat jy daar vasgevang is, en dit al sal wees wat jy vir die res van jou lewe sal ervaar.” As daar geen gevoel van potensiële verandering is terwyl jy met die lewe voortgaan, of vorder, of interessante nuwe ervarings byvoeg nie, sê hy, kan jy jou motivering verloor en op die kort, medium en lang termyn depressief raak.  
 
Tweevlakstelsel  
Dr Greg Lamb verduidelik verder oor die werking en funksionaliteit van die brein. “Die brein funksioneer op ’n tweevlak- kognitiewe (denk-) stelsel – vinnige en stadige denke. Aangesien die brein geheel en al op bloedsuiker staatmaak vir energie, wil dit hê dat jy jou energie spaarsaam moet gebruik. Doelbewuste, inspanningsvolle, stadige denke kan beduidende hoeveelhede energie doeltreffend verbruik. Die brein beweeg dus net na daardie modus toe wanneer dit noodsaaklik is. In plaas daarvan bestee ons die meeste van ons tyd in die vinnigdenkende modus. Hierdie modus floreer op vinnige en emosionele assosiasies wat dikwels verkeerd en misleidend kan wees. Dit is in hierdie modus wat ons ook baie vir denkvooroordele vatbaar is. Dit sal geneig wees om die pad van die minste weerstand te volg en nie noodwendig die pad wat die beste of die funksioneelste vir jou is nie. Ons kan dus in die oomblik dinge doen en sê wat op emosie gegrond is, en nie op dit wat die beste is om in daardie situasie te doen nie.” Aangesien die vinnigdenkende prosesse sterk op emosionele assosiasies inwerk, speel hulle ’n belangrike rol om ons veilig te hou, maar ook om die lewe te geniet, aangesien emosies herinneringe sal inkleur om jou te laat onthou hoe jy in ’n bepaalde situasie gevoel het. Hy voeg by dat hierdie funksie onder normale omstandighede deur die Papez-kring (circuit of Papez) verkry word, waar konkrete idees vanaf die dorsale hippokampus ingekleur word met emosionele kleure vanaf die ventrale hippokampus, wat op sy beurt aan die amigdala (emosionele brein) verbind is. Dit kan help dat ons in die toekoms ongemaklike of skadelike situasies vermy, of ons help om die genotvolle situasies wat ons al ervaar het, te onthou.  
 
Wat beteken dit alles?  
As ons doelbewus tyd gebruik om aan goeie situasies te dink waarin ons vroeër was deurdat ons die denksentrum van die brein (prefrontale korteks) gebruik, kan dit ons help om die positiewe emosies wat daaraan gekoppel is, te konsolideer. Selfs in die vinnigdenkende modus sal die brein egter positiewe emosionele assosiasies maak as ons vir die brein ’n reeks ervarings verskaf en fisiek rondbeweeg en met mense omgaan en by aktiwiteite betrokke is. Ongelukkig bevind ons onsself dikwels as gevolg van die tempo en eise van die moderne lewe aan ’n lessenaar in die kantoor vasgekluister en ons leef van naweek tot naweek, met geen energie en tyd om enigiets anders te doen nie. Ons beweeg nie meer nie en ervaar nie die lewe nie. “Dit kan die ventrale hippokampus (en die stresbane) aktiveer, wat ’n beduidende domino-effek op ander dele van die brein kan hê – veral die verslawingsbane. In die afwesigheid van eksplorasie, beweging en betrokkenheid by aktiwiteite of die lewe, word hierdie verslawingsbane geaktiveer en dit lei tot permanente, instinktiewe drange,” sê dr Lamb. Hierdie drange sluit ’n tendens in om te ooreet, asook ’n drang na alkohol en dat jy dan meer drink as wat jy moet. Dit het ook ’n beduidende impak op ons vermoë om ons gemoed en aggressie te reguleer, en ook op die oor-/onderstimulering van die libido. Tyd begin ook stadiger verbygaan omdat jou aksies nie meer deur oortuiging en ontwikkeling ondersteun word nie, en die lewe voel swaar en ewigdurend. Op sy beurt kan dit ’n beduidende impak op jou geluk, welstand en gesondheid (fisiek sowel as geestelik) hê.  
 
Wat kan ons daaraan doen?  
Aangesien verskeie neurosielkundige faktore ’n beduidende rol in die regulering van geluk en welstand speel, is dit baie nuttig om die werking van die brein te verstaan. Iets so eenvoudig soos gereelde beweging, byvoorbeeld stap, sal onmiddellik die brein in kennis stel dat wat jy doen belangrik is, en jou bewus maak om oplettend en betrokke te wees. Dr Lamb sê dat as jy op ’n gereelde basis beweeg, dit nie net kortisol (die streshormoon) uit jou stelsel sal verwyder nie, maar dit sal ook neurotropiese groeifaktor vanaf die brein (BDNF) vrystel, wat in gewone taal as breinvoeding (brain fertiliser) bekend staan. “Dit speel ’n lewensbelangrike rol in leer, geheuevaslegging en hoërordedenke, die aktivering van die dorsale hippokampus en die vorming van positiewe emosionele assosiasies.  Die neurochemiese stof oksitosien word ook vrygestel, wat jou laat goed voel oor wat jy bereik het. Oksitosien is baie belangrik vir die bou van verhoudings, die bevordering van samewerking tussen mense en die ervaring van die gevoel van behoort, en dit help ons om kreatief en innoverend te wees. Al hierdie aspekte sal ’n positiewe impak op die ervaring van die self hê, en ook op ons geluk en welstand,” sê hy. Prof Kruger en dr Lamb sluit af deur waardevolle raad te gee. “Vergeet daardie selfhelpboeke en bogpraatjies. Die beste ding wat jy vir jouself kan doen, is om op ’n gereelde basis te begin beweeg en om by die lewe en by ander mense betrokke te raak. Leer ’n nuwe taal aan, bring tyd saam met vriende deur, vind uit hoe om rose behoorlik te snoei en leer hoe om jou eie brood te bak. Bring tyd in gebed deur, wees kreatief, gaan stap of ry fiets, en kom buite in die natuur. Slegs dan sal die brein nie meer angstig wees nie en jou toelaat om by die lewe betrokke te wees. Sodra jy by die lewe begin betrokke raak, begin ervarings opbou en gehaltetyd deurbring saam met mense wat vir jou belangrik is, sal jou brein jou met geluk, welstand en goeie gesondheid beloon.”
 

Related Articles

Back to top button