SportSport

‘n Eerste en ’n wen vir Visrivier se grote

Vir baie mag hierdie ’n onbekende sport en avontuur wees, maar twee Parysenaars, Bertrand van der Berg en Daniel Barnard, het gesorg dat die land se voorste roeiers sonder twyfel kennis neem van Standup Paddle Boards (SUP).

Vir baie mag hierdie ’n onbekende sport en avontuur wees, maar twee Parysenaars, Bertrand van der Berg en Daniel Barnard, het gesorg dat die land se voorste roeiers sonder twyfel kennis neem van Standup Paddle Boards (SUP).
Die twee het hul eerste Hansa Visrivier kanomarathon op 9 en 10 Oktober geroei en gespog met die 1ste plek vir Daniel, en ’n 2de plek vir Bertrand vir deelnemers wat met SUP’s die 46km uitdaging aangepak het.Vanjaar was die eerste jaar dat SUP’s toegelaat is en het sewe deelnemers ingeskryf in hierdie afdeling, waar nog net die korter afstand geroei kon word.
Vroeër is slegs kano’s toegelaat en was daar meer as 1 000 inskrywings van regoor die wêreld vir die K1, K2 en K3-afdelings.
Met Standup Paddle Boards staan die deelnemer op ’n bord soortgelyk aan die borde wat deur branderplankryers gebruik word, behalwe dat dié borde baie spesifiek ontwerp is vir die doel en gevolglik langer en smaller is. Daar word net aan een kant op ’n slag geroei met ’n spesiale spaan amper soos ’n roeispaan wat in die helfte gesny sou wees.

Bertrand van der Berg en Daniel Barnard in aksie op die Visrivier tydens die Hansa Visrivier kanomarathon.
Bertrand van der Berg en Daniel Barnard in aksie op die Visrivier tydens die Hansa Visrivier kanomarathon.

Beide Bertrand en Daniel is meganiese ingenieurs en ervare kajakroeiers wat vir die afgelope 17 jaar roei. Hulle vertel dat hulle vir die eerste keer op die internet van die sport te hore gekom het. Dit het in 2006 in Hawaii sy oorsprong gehad en is oorspronklik eers op see gedoen, maar toe ook later aangepas vir langer afstande en plat water.
Standup Paddle Boards is nog nie baie bekend in witwater omstandighede nie, en is die Visrivier-uitdaging wat Bertrand en Daniel aangepak het, des te meer ’n groot prestasie en baanbrekers oorwinning vir die sport op Suid-Afrikaanse waters.
Bertrand was dan ook een van die eerstes in die land wat die sport net meer as twee jaar gelede probeer het. Danksy sy en Daniel se geesdrif en ywer om die sport te bemark, is daar in totaal reeds ses gereelde SUP roeiers in Parys en heelwat meer het al probeer. Die lekker van die sport is dat dit baie veelsydig beoefen kan word met verskillende tipes borde wat vir verskillende omstandighede ontwerp is.
Só is dit ideaal vir diegene wat op plat water die natuurskoon op ’n ietwat anders en rustige manier wil verken en dalk selfs vlieghengel op die koop toe wil doen, of die kinders of ’n viervoet vriend op die water wil neem. (recreational paddling). Maar daar is ook genoeg potensiaal vir adrenalien-verslaafdes wat op witwater teen tyd hul slag wil wys (whitewater racing), soos wat nou met die Visrivier-kanomarathon bewys is.
Bertrand en Daniel vertel dat mense selfs al joga- en pilatesklasse op die borde gee en dat enigeen, selfs gestremdes, in dié sport geakkommodeer kan word. ’n Bord kan jou tussen R5 000 en R30 000 uit die sak jaag.
Vir die Visrivier wat hulle oor twee dae geroei het (20km en toe 26km) het hulle twee maande voor die tyd spesifiek begin oefen, maar die twee is elke week op die water en ’n kuiertjie wanneer daar sommer rivier langs na mekaar se huise geroei word, is geen vreemde gesig nie.
Anders as ander deelnemers wat see- en plat water gewoond is, ken hulle stroomversnellings. Daarom was die Visrivier se stroomversnellings geen nuutjie vir hulle nie, maar die vinnige vloeiende rivierwater wel ’n uitdaging. Dit het ook ’n groot rol gespeel in die keuse van die bord wat hulle gebruik het, hoewel dit die wedren moeiliker gemaak het om te roei.
Bertrand en Daniel is lede van die plaaslike Likkewaan-kanoklub en het naas verskeie Standup kompetisies wat hulle al gedoen het, ook ’n “First Descent” gedoen op die Asrivier tussen Clarens en Bethlehem, en die Kliprivier saam met nog ’n Parysenaar Philip Claassens, en nou die Visrivier.
Hoewel daar nog heelwat riviere is wat hulle met die SUP’s wil aandurf, is hul grootste uitdaging om dié borde aan soveel mense moontlik bekend te stel, nie vir wedrenne as sulks nie, maar vir ontspanning.
Parys se water is ideaal, gesels hulle – winter en somer, en baie toeganklik vir oefening. Hoewel veiligheid en die nodige opleiding altyd voorkeur kry, sê hulle dat die moontlikhede eindeloos is, selfs vir beginners en dié wat minder of selfs glad nie sportief is nie.
Mense kan gerus met Bertrand kontak maak by 082 921 9427 of gaan kyk na die webtuiste limeSUP.co.za as hulle meer oor die sport wil weet.

Related Articles

Back to top button