NewsNews

30 jaar later en trourok pas steeds

30 jaar later en trourok pas steeds

Jan en Erna van Niekerk van Vanderbijlpark het op 15 September hul 30ste huweliksherdenking gevier. Erna het besluit dat hulle vir dié herdenking iets spesiaal moet doen. Hulle het reeds met hul 25ste herdenking opnuut trou aan mekaar beloof voor die predikant en hul naaste familie, en met al die Covid-19 beperkings was daar nie weer sprake van groot feesvier nie. Erna was nog altyd een wat weet hoe om ‘n plan te maak en het derhalwe besluit dit is tyd dat sy en Jan weer vir ‘n slag ordentlik afgeneem word.

Een ding het tot ‘n ander gelei en dit is toe dat Erna haar trourok uit die kas gehaal het. Bittermin mense sal haar dit sekerlik kan nadoen, want toe sy haar droomrok aanpas het dit nog gepas … om die waarheid te sê, dit neig nou ampertjies na te groot! Dit is toe dat sy besluit het sy wil weer pure bruid voel en haar trourok vir die fotosessie dra. Sy het ook vir hul ‘n spesiale ete gereël by The Red Café in Deliusstraat waar Lizel Nel Ferreira selfs vlaggies en papierblomme in die egpaar se oorspronklike reënboogkleure opgesit het. Erna het pure bruid gelyk met blink oë en ‘n borrelende lag net soos 30 jaar gelede. Jan het net gelag by die gedagte dat hy weer in sy troupak sou pas, daarvoor kan Erna te lekker kook.

Die Van Niekerks is op 15 September 1990 in die NG Moedergemeente in Vanderbijlpark deur ds. Johan Hartzenberg in die huwelik bevestig. “Die week voor die troue het alles omtrent skeefgeloop,” onthou sy.
“Die troukar was in ‘n ongeluk, die soliste het in die hospitaal beland en net voor ek in die kerk ingestap het, het my sluier afgewaai. Ek en my pa moes toe eers agter die sluier aan hardloop,” lag sy te lekker terwyl sy die herinneringe opdiep. Nadat die album met foto’s deurgeblaai is, staan Lizel nader met ‘n bottel nie-alkoholiese rooi vonkelwyn en die glasies word gelig op die bruidspaar wat na 30 jaar steeds met blink oë na mekaar kyk.

Erna het vir hul 30ste huweliksherdenking weer haar trourok uit die kas gehaal vir ‘n fotosessie. Foto: Gerda BruinetteHier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

30 jaar later en trourok pas steeds

Related Articles

Back to top button