News

Medici span saam om kleuter te help na traumatiese besering aan tong

“Baie dankie aan al die betrokkenes wat my meisiekind gehelp het,” sê dankbare ma.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Soms loop ‘n mens se dag sleg skeef, maar terugskouend kan jy net dankbaar wees oor die “engele” en kundiges wat jou pad tydens ‘n mediese noodgeval kruis.
Só sê mev. Lindy Jacobs, wie se vierjarige dogtertjie, Elandri, verlede Maandag ‘n traumatiese besering aan haar tong opgedoen het toe sy byna die hele regterhelfte deurgebyt het.

“Elandri het verlede Maandag vroegaand, soos elke dag na werk, buite rondgehardloop en gespeel. Sy het in ‘n stadium baie vinnig gehardloop, geval en die regterkant van haar tongetjie deurgebyt tot in die middel,” sê Lindy. Sy het dadelik besef dat die gapende, bloeiende sny ‘n baie ernstige besering was.

“Ek was in skok en is paniekerig na ons bure toe, wat gelukkig dadelik vir dokter Carl Craemer gebel het. Al was dit na ure het hy onmiddellik vir dr. Johan Snyman, ‘n plaaslike chirurg, gebel en reëlings getref dat Elandri vroeg die volgende oggend in die teater kon wees. Dr. Craemer het my ook stap-vir-stap verduidelik wat ek verder moes doen, hoe ek Elandri moes behandel totdat sy professionele hulp in ‘n teater kon kry, en my ook ingelig oor die noodsaaklikheid dat ‘n Covid-toets so gou as moontlik op haar gedoen moes word,” sê Lindy.

Omdat die gesin nog op ‘n wagperiode by hul mediese fonds is, het dr. Craemer se kantoordame nog tot laat die aand met die fonds probeer onderhandel vir goedkeuring vir die operasie.

Ook dr. Craemer, dr. Snyman en dr. Pieter Lategan van Cormed het hul aand se planne opsygeskuif om met mekaar te skakel en planne te maak om Elandri so gou as moontlik chirurgies te help. “Selfs suster Petra van Cormed, wat op vakansie was, en die hospitaalbestuurder, mev. Sonika Venter, het na ure ingespring en met die reëlings gehelp,” sê die dankbare ma.

Teen ligdag Dinsdagoggend was Lindy met Elandri by dr. Snyman se spreekkamer waar die admindame, me. Adri Scholtz, spesiaal vroeg ingekom het om hulle te help om al die dokumentasie in te vul en op die stelsel te kry.
Hoewel goedkeuring vir die operasie nie van die mediese fonds verkry kon word nie, kon die operasie by Cormed voortgaan, waar dieselfde vriendelike, flink diens op die ontstelde ma en dogtertjie gewag het.

“’n Mens het nie genoeg woorde om Cormed se susters te beskryf nie. Hulle is wonderlike mense wat ons so gemaklik, tuis en veilig laat voel het,” sê Lindy.
Elandri was spoedig in die teater, waar dr. Frieda Thom die narkose toegedien het terwyl dr. Snyman die tongetjie met steke geheg het. Elandri kon dieselfde middag ontslaan word.

Die kleinding maak goeie vordering en die steke behoort binne twee weke self op te los. Volgens Lindy praat Elandri nog bietjie moeilik en die wond brand steeds erg as sy iets eet of drink, maar na verwagting gaan sy heeltemal herstel en die volle gebruik van haar tong herwin.
“Baie dankie aan al die betrokkenes wat my meisiekind gehelp het,” sê Lindy.

  • ‘n Besering aan die tong kan baie ernstige implikasies hê, veral as ‘n deel van die tong af is of as daar skade aan die tongspier is. In so ‘n geval kan dit langtermyngevolge hê vir praat, eet en sluk. Vaalweekblad stuur goeie wense en vertrou dat Elandri heeltemal gaan herstel.
  • Die voorste gedeelte van Elandri se tongetjie het heeltemal skuins gehang voordat dit tydens ‘n operasie geheg is.
https://vaalweekblad.com/74758/medici-span-saam-om-kleuter

Related Articles

Back to top button