NewsNews

Dit was soos ’n rolprent in stadige aksie…

Dit was soos ’n rolprent in stadige aksie...

 

Die dagboek was vol. Bruide, matriekafskeid. ’n besige Maart. April het sy belofte ingehou. En toe is die dagboekblaaie op 23 Maart uitgeruk.
Geskommel in onsekerheid van uitstel. Drie weke het drie maande geword, weer uitstel, nuwe datums, wag. Wag op sekerheid.
Vir die geleentheid- en gasvryheidsbedryf bloei die wonde van die Covid-19 pandemie se gevolge steeds swaar. En dit is nie net ‘venue’ eienaars, spyseniers, bloemiste, haarkappers, grimeerkunstenaars en fotograwe wat asem ophou vir wat die toekoms inhou nie. Vir modeontwerpers het die afgelope ses maande uitdagings gebring soos min.
Maar ontwerper Werner Dey van Werner Dey Couture beskryf die tyd as ’n tyd wat hy dankbaarheid geleer het. ’n Tyd waarin hy ’n lewensfilosofie geleef het van “keep going forward”. Om die beste te doen wat jy kan in die oomblik – en aan te hou.

Vir hom, soos ander ontwerpers, was die effek van inperking onmiddellik. Soos ’n rolprent wat in stadige aksie voor jou afspeel en jy sien die onvermydelike en jy weet jy’s net ’n toeskouer.
Bruide wat tot ses keer hul datums geskuif het. Elke keer die foon wat lui, ’n nuwe datum, nuwe hoop op normaliteit. Eers in Junie kon daar weer met kliënte gewerk word, maar steeds is daar die onsekerhede – beskikbaarheid van ‘venues’, kostes, getalle en natuurlik die gevaar van die virus.
Daar was dae wat hy gewonder het hoe hy deur die dag sou kom, maar dan was daar elke keer ’n kliënt wat weer sin aan vandag gegee het.
In retrospeksie sê Werner dat net soos hy, ander in die geleentheid- en gasvryheidsbedryf sedert April bekommernisse gehad het, maar dat hy gou besef het dat kommer jou nêrens bring nie.
Hy het gekies om vas te hou aan die hoop van ’n volle vandag, en dat môre nog beter sou wees.
Daar is besin oor die toekoms en herbeplanning, herskedulering en herstrukturering gedoen om uitdagings die hoof te bied.
Met dié geloof kon hy sy personeel behou en wroeg deur die eindelose werkloosheidsversekeringaansoeke vir sy werkers met deurlopende doodloopstrate.
Aanpassings was daar, maar dit gaan oor geleenthede raaksien, oor opstaan en aangaan, sê Werner.

Jy kyk nie vas teen rokke in vertoonkaste nie, of afsprake wat weer en weer geskuif moet word soos gewag word op grendelgenade nie. Nee, jy doen nou wat jy kan doen.
Dis die klein dingetjies wat saakmaak. Die passie wat jy in dit wat jy doen insit. “Bekommernis is menslik, maar as jy besef jy kan niks daaraan doen nie, trek vertroue die balans van die skaal op van bekommernis na hoop,” sê hy.

Of hy ooit gedink het aan maskers maak of ander alternatiewe? Nee, sê Werner, al was die afgelope maande moeilik, was dit kans vir stil raak, retrospeksie, die kompas instel op dit wat saakmaak. Ook dit het hy by kliënte gesien. Mense wat herbesin het oor die waardes van die lewe. Wat regtig saakmaak. “As ons net bly vashou aan môre het ons vandag gemors. Nou is die tyd om geleenthede raak te sien,” sê hy en gesels oor sy planne vir ’n klein reeks bekostigbare pasklaar trourokke.
“Die afgelope 25 jaar in die bedryf het ek myself ontdek, maar die afgelope ses maande is die ‘reset’ knoppie vir ons almal gedruk. Het ek geleer aanhou, om dinge te vereenvoudig, nie ’n oomblik te mis nie. Ek is geïnspireer deur alles om my. Ek wil probeer wat ek nog nooit probeer het nie.
“Ek glo vas as ons eers by Januarie kom, gaan ons die ‘amazingste’ jaar nog hê,” sê hy toe ons groet.
“Dit is ok as ons nie in beheer is nie, maar maak dit gebeur waarin jy glo met jou hele hart, en wag …. en vertrou.”

Related Articles

Back to top button