

Vrese oor die regering se Covid-19 App het mense blitsig en heftig op sosiale media laat reageer met boodskappe wat gewissel het van ”haal my maar af van jou kontaklysie as jy sou waag om die app te laai”, tot, “hoekom die bohaai – Google en jou ander apps loer lankal soos Big Brother oor jou skouer.”
Ten spyte van al die bohaai het meer as ‘n halfmiljoen mense nou al die nasporingsapp van die regering , afgelaai.
Die Covid Alert SA toepassing is gratis deur Discovery gebou en volgens Discovery se hoof van digitale dienste Maria Carpenter, was daar streng vereistes juis om verbruikers se privaatheid te beskerm.
So nee jy word nie gevra vir jou ligging, jou kredietkaartbesonderhede, jou kontakte of jou Facebook vriende se name nie, is gesê om verbruikers gerus te stel.
.Dit vra wel toestemming om jou foon se Bluetooth funksie te gebruik om kennisgewings te stuur.
Wanneer jy dan ‘n kennisgewing kry sal jy net die dag van blootstelling weet, nie die tyd of plek of wie dit was wat positief getoets het nie.
Hoewel Covid Alert SA ‘n eerste vir Afrika is, is daar soortgelyke toepassings in lande soos Australië, Brasilië, Duitsland, Japan Kanada en ander.
En al word syfers nou laer, is dit steeds belangrik om die verspreiding van die virus veral in openbare plekke te voorkom.
Met die toepassing word kodes via Bluetooth tussen toestelle uitgeruil wat dan weer daarop dui dat hulle in naby kontak met mekaar was.
As iemand dan later positief sou toets vir die koronavirus, word ‘n kennisgewing na die eienaar van die ander selfoon gestuur om jou te laat weet dat jy in naby kontak was met iemand wat Covid-19 het.
‘n Gedesentraliseerde benadering is gevolg wat beteken geen inligting vir die toepassing word iewers op ‘n sentrale databasis gestoor nie.




