NewsNews

Clicks deure toe ná hare-klowery met EFF oor advertensie

Polisie hou wakende oog

 

Die hare klowery oor ‘n haar advertensie wat op Clicks se webwerf geplaas is het Maandag wel daartoe gelei dat sommige Clicks takke gesluit was, insluitend die Parys- tak en twee Sasolburg-takke. Dit nadat die EFF desondanks Clicks se onvoorwaardelike verskoning oor die advertensie en die verwydering daarvan van die winkelgroep se webwerf, sy lede gevra het om alle Clicks-winkels in die land Maandagoggend tot stilstand te dwing. By die Parys-tak was daar net ‘n handjievol EFF-lede wat vreedsaam voor die geslote Clicks deure gestaan het, en kort daarna weer net so vreedsaam uitmekaar gegaan het.

 Lede van die polisie se Openbare Orde Polisiëring eenheid in Sasolburg het ‘n sterk teenwoordigheid deurentyd gehandhaaf en was daar onder die span ook tien rekrute konstabels wat Maandag by die eenheid aangesluit het en tans besig is met hul indiensopleiding in skare beheer. Hulle sal permament deel wees van die eenheid.  

Uit Polokwane is berig dat ‘n petrolbom vanoggend na die ingang van die Clicks in die Cycad-sentrum  gegooi is, terwyl EFF-lede ook by ander Clicks-takke teenwoordig was en gevalle van plundery en vandalisme by sommige winkels aangemeld is.

 

Die hooggeregshof het ‘n dringende aansoek deur Clicks om die EFF se betogings by sy winkels oor die land te stop, vandag van die hand gewys. 

Die advertensie waaroor die rasseherrie gaan het ‘n swart vrou se hare as “droog en beskadig” beskryf is en ‘n wit vrou se hare as “fyn en plat”. In ‘n ope brief het Clicks se uitvoerende hoof, Vikesh Ramsunder, geskryf: “As uitvoerende hoof  van Clicks is ek diep teleurgesteld dat ons toegelaat het dat onsensitiewe en aanstootlike foto’s op ons webwerf gepubliseer word. Ek vra onvoordelik om verskoning vir die seer en woede wat dit veroorsaak het.” Ramsunder skryf dat hoewel die verskaffer die foto’s en inhoud van die advertensie verskaf het, “onthef dit ons nie van aanspreeklikheid nie. Dit is hoekom ons verantwoordelikheid vir hierdie oordeelsfout geneem het deur ‘n openbare verskoning te vra en die aanstootlike materiaal dadelik van ons webwerf te verwyder.”  

 

Related Articles

Back to top button