News

Boer tien keer geskiet en leef na plaasaanval

Boer tien keer geskiet en leef na plaasaanval

 

 

’n Boer is Dinsdag, 25 Augustus tien keer raakgeskiet tydens ‘n plaasaanval by Muiskraal in die Rysmierbult-omgewing nadat drie verdagtes vroeër sy tuinwerker oorval het. Kol. Adéle Myburgh, ʼn Polisiewoordvoerder van Noordwes, sê André Marais (54) is in sy bene en voet geskiet en ernstig gewond nadat ʼn koeël die hoofslagaar in sy bobeen getref het. Hy is na die aanval in Mediclinic Potchefstroom opgeneem waarna hy ʼn operasie ondergaan het om sy are te heg. Volgens Diana King, woordvoerder van die hospitaal, is sy toestand stabiel en sterk hy in die hoësorgeenheid aan. Kol. Myburgh het bevestig dat die aanval om 18:00 plaasgevind het toe drie verdagtes ʼn tuinier (68) op die plaas buite sy sinkhuis oorval, vasgebind en binne sy huis met ʼn pistool aangehou het.
 
Marais se honde het begin blaf toe die tuinier om hulp roep en hy het sy geweer geneem om buite ondersoek in te stel. Toe hy by die tuinier se huis kom, het die verdagtes op hom losgebrand. Marais het inmekaarsak waarna die verdagtes sy vuurwapen en ʼn mes by hom afgevat het. Hulle het daarna in ʼn silwerkleurige sedan gevlug. Boere wat die skote in die omgewing gehoor het, het dadelik na Marais se huis gery en paaie afgesper in ʼn poging om die aanvallers vas te keer. Dié plaasaanval ontvou toe verder met ʼn vreemde kinkel toe boere wat die omgewing patrolleer ʼn verdwaalde man (34) langs die pad sien. Hulle het hom gevra wat hy so laat in die aand daar maak waarna hy aan hulle vertel dat hy vroeër die dag ʼn slagoffer van ʼn gewapende roof was toe hy by Carletonville Mall geld by ʼn OTM getrek het.
 
Die verdwaalde man het vertel dat ʼn vrou hom net daarna genader en gevra dat hy haar met iets moet help. Terwyl hulle wegstap het sy haar handsak oopgemaak en aan hom ʼn pistool gewys en gesê dat sy hom sal skiet as hy haar nie volg nie. Die vrou het hom na ‘n voertuig geneem waarin drie mans was. Hulle het die slagoffer beveel om plat te lê, sy geld by hom afgevat en ʼn ruk met hom rondgery tot hulle hom later langs die pad in die Muiskraal-omgewing afgelaai het. Die polisie vermoed dat die drie mans wat die plaasaanval uitgevoer het dieselfde mans is wat die verdwaalde man vroeër die dag beroof en ontvoer het. Hulle vra dat enige iemand met meer inligting sers. Jarus Mantsho by 018 765 1039/1060 of 060 612 3271 sal skakel. Nog niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en gewapende roof.
 
 
 
 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button