NewsNews

Onderwysdepartement sloer om gevaarlike strukture by skool te herstel

Onderwysdepartement sloer om gevaarlike strukture by skool te herstel

Leerlinge en onderwysers van Promosa Secondary School is bekommerd oor die haglike toestand waarin sommige van die klaskamers, oorbrug en staaltrappe van die skool tans is en vrees dat dit ‘n gevaar vir hulle inhou.

Glenville Fransman, DA-raadslid van die J.B Marks munisipaliteit, sê die DA het reeds in Junie die gevaarlike toestand van die strukture onder die aandag van die Noordwes onderwysdepartement gebring, maar nog geen terugvoer daaroor gekry nie.

Uit foto’s wat Fransman aan die Herald verskaf het, kan groot gate in die asbesgeboue gesien word. Staaltrappe en strukture wat ʼn oorbrug stut, is verroes en onstabiel. Hy het ook aan Netwerk24 genoem dat hulle ʼn soortgelyke tragedie van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark vrees waar vier leerlinge dood en talle ernstig beseer is toe ʼn oorbrug naby hul skoolsaal ineengestort het.

“Die DA beplan om ʼn klag teen Noordwes se onderwysdepartement by die Menseregtekommissie in te dien omdat die departement nie die asbes en staalstrukture wil herstel nie”, sê Fransman. Volgens hom het die onderwysdepartement nog geen pogings aangewend om die skool in stand te hou sedert dit 40 jaar gelede opgerig is nie. Dit nadat die departement van basiese onderwys in 2013 regulasies ingestel het wat bepaal dat skole wat net uit asbesgeboue bestaan teen November 2016 met ander boumateriaal vervang moet word.

Netwerk24 het berig dat die woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, Elias Malindi, bevestig dat hulle van die probleme by Promosa Secondary School bewus is en dat hulle ʼn taakspan saamgestel het om aandag daaraan te gee. Volgens Malindi is die rol van die taakspan om te sorg dat mobiele klaskamers aan die skool gegee word.

Vionne Ferris, die skoolhoof van Promosa Secondary School, sê die skool het die beskadigde geboue en trappe afgesper en dat niemand naby dit toegelaat word nie.

  • Stukkende asbes hou ʼn gevaar in dat onsigbare vesel, wat mikroskopies fyn is, aërodinamiese eienskappe het om in die longe se alveoli te beland. Met tyd vorm dit ʼn wond en kan dit suurstofuitruiling belemmer. Volgens kenners moet ʼn redelike hoeveelheid vesel oor ʼn lang tydperk (20 jaar en langer) ingeasem word voordat dit ʼn uitwerking het.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Onderwysdepartement sloer om gevaarlike strukture by skool te herstel

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button