News

Veldbrande rig groot skade aan

Veldbrande rig groot skade aan

 

Duisende rand se skade is die afgelope paar weke deur veldbrande in die omgewing aangerig. Volgens die voorsitter van die Gatsrand Brandbeskermingsvereniging (BBV) in die Carletonville-omgewing, mnr. Tom Visser, het ‘n groot veldbrand op 4 Augustus volgens aanduidings meer as R100 000 se skade aangerig.
 
Die brand, wat sowat 500 hektaar verwoes het, het in die Rooipoort-omgewing begin en kon eers naby die Oog van die Wonderfonteinspruit met die hulp van verskeie boere, die Merafong brandweer sowel as Sibanye-Stillwater se brandweer, gestop word. Op een van die plase wat deurgeloop het, het vyf perdestalle, duisende rand se voer en ‘n perdevervoerwa afgebrand. Volgens me. Jackie Standing, wat ‘n perdryklub, die Dakota Riding Club, op dié plaas het, het een van hul perde, ‘n ou, blinde merrie ook gebrand toe sy nie betyds van die vlamme kon wegkom nie.
 
Gelukkig was haar brandwonde nie ernstig nie.
 
Al die perde se voer en ander toerusting soos komberse, het ook heeltemal uitgebrand. Nadat die organisasie Boere Droogte Hulp op sosiale media van hul krisis te hore gekom het, het hulle Maandag twee vragmotors met voerbale by die klub kom aflaai. Die SAVF en Nico Kotze het ook ware geskenk om die klub te help. “Ons is baie dankbaar vir al dié hulp,” sê Standing. Nóg ‘n groot brand het die afgelope naweek groot skade tussen Fochville en Potchefstroom aangerig. Dié brand, wat noord van die N12 ontstaan het, het Saterdag en Sondag ‘n spoor van verwoesting oor sowat 30 km gelaat.
 
Sowat 3 900 hektaar is in dié brand verwoes. Sowat 150 mense wat lede is van die Fochville- en Potchefstroom BBV, sowel as Working on Fire, die Gauteng verkeersdepartement en verskeie brandweerdienste, moes veg om dit onder beheer te kry. Volgens Visser is daar steeds sommige boere wat nie deel van hul gebied se BBV is nie en om dié rede nie van die dienste wat met lidmaatskap saamgaan, soos gratis hulp van die brandweer indien daar ‘n brand op jou plaas is, gebruik kan maak nie. Lede van BBV’s word ook van eise vrygestel indien ‘n brand buiten hul eie toedoen, op hul plaas ontstaan. Hy het ook genoem dat die BBV binnekort inspeksies van voorbrande op plase gaan hou. Geen voorbrande mag egter weens die groot brandgevaar, in Augustus gemaak word nie.
 
 
 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button