NewsNews

Drie dooie honde in waterkanaal

Drie dooie honde in waterkanaal

Diereliefhebbers was uiters geskok toe hulle Dinsdagoggend, 18 Augustus die Facebook-plasing lees nadat ’n inwoner sy verlore hond weer gevind het.

JJ Calitz het sy dooie boerboel Dinsdag in ‘n waterkanaal by die Mooibank-kleinhoewes uitgehaal. Hy was geskok toe hy sien dat die onderste gedeeltes van haar agterpote afgekap was.

Kort nadat hy sy hond se liggaam uit die water gehaal het, het hy gesien daar is nog ‘n klein hondjie se liggaam wat op die water dryf. “Hulle het by mekaar in die water gelê,” sê Calitz.

Hy het aan die Herald vertel dat hy sy tweejarige hond op 4 Augustus vir die laaste keer gesien het. “Ons het ses honde op die kleinhoewe gehad en ek voer hulle altyd om 18:00 die aand. Ek het later voor ek gaan slaap het, weer vir hulle ietsie te ete gegee en dis die laaste keer wat ek Katrien gesien het. Ek het die volgende dag dadelik gemerk dat sy nie tussen die ander honde is nie.”

Hy vertel dat hulle oral in die omgewing gesoek het, maar niks gekry het nie. “Dit was vir my baie vreemd dat Katrien net verdwyn het. Sy was nie ‘n hond wat rondgeloop het of sommer na vreemdelinge toe sou gaan nie,” sê hy.

Nadat sy soektog niks opgelewer het nie, het hy ondersoek ingestel by werkers wat ook in die omgewing woon. Hy het ‘n beloning van R1 000 aangebied aan die persoon wat die hond vind.

“Presies twee weke nadat sy verdwyn het, het een van die werkers wat verby die waterkanaal geloop het, haar gesien. Sy was baie opgeswel. Die werker het eers gedink dit is ‘n vark wat in die water lê,” vertel Calitz verder. Hy vermoed dat sy hond nog geleef het toe sy in die water gegooi is, want dit is duidelik dat sy gespartel het om uit die kanaal te kom. “Haar voorpote het sere aan die onderkant gehad en haar naels was stomp afgeskuur.”

Vir Calitz is die hele affêre ‘n raaisel. “Waarom wil iemand ‘n hond steel, haar agterbene afkap en in ‘n kanaal gooi en waarom is daar ‘n ander hond ook in die kanaal gevind?” Hy redeneer dat dit nie inbrekers kon wees wat die hond wou doodmaak om later by die huis in te breek nie.

“Mense wat wil inbreek sou al die honde vergiftig het en nie net een gesteel het nie,” sê hy. Dieselfde dag wat JJ sy hond gekry het, het die Herald afgespreek om ‘n foto van hom by die waterkanaal te neem. Terwyl hy daar gestaan het, het hy nog ‘n klein hondjie in die waterkanaal gesien wat hy toe met ‘n stok uitgehaal en langs die kant van die wal neergelê het. Dié hondjie het soos ‘n poedelkruising gelyk.

JJ nooi mense wat honde in die Mooibank-omgewing vermis of enige iemand wat dalk meer inligting rondom die saak het, om hom by 079 063 4359 te skakel.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Drie dooie honde in waterkanaal

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button