Wind het die afgelope naweek weer daartoe bygedra dat daar verwoed baklei moes word teen brande in die omgewing van Parys.
Die naweek het ’n brand noord van die N12 ontstaan en vir ongeveer 30km ’n spoor van verwoesting na ’n suidoostelike rigting gelaat, met nagenoeg 3 900ha se natuurlike weiding, aangeplante weiding en lande wat reeds geoes is, wat gebrand het. Ongeveer 150 mense en nagenoeg 65 voertuie was op die toneel om te help om die brand te bestry.
Dankie aan elkeen wat hulp verleen het, insluitend Potchefstroom BBV, Fochville BBV, Working on Fire, Gauteng verkeer en verskeie brandweervoertuie uit plaaslike distrikte. Sarel van der Wat het as gebiedshoof ook sy dank uitgespreek teenoor lede van die Rooikat Groep se Roepgroep 6, asook Pieter Kemp van die Vaal Eden Brandvereniging.