News

Het die bordspel-gogga jou al gebyt?

Het die bordspel-gogga jou al gebyt?

SASOLBURG. – In die jare voor televisie, die internet en selfone het gesinne hul aande verwyl deur na stories oor die radio te luister en speletjies te speel. Veral bordspeletjies het groot aftrek gekry. In die grendeltyd het verskeie gesinne mekaar weer die stryd rondom ‘n ou Monopoly of Cluedo bord aangesê. Dan is daar die bordspel entoesiaste wat nog nooit opgehou speel het nie, die speletjies het net meer strategies geword.

Adele Meyer sê sy en haar man, Heinrich, speel nou al vir die afgelope sewe jaar gereeld Catan. Die Meyers het al selfs ‘n slag of wat ‘n toernooi aangebied wat by hul gemeente se basaar in Sasolburg gehou is.
“As gesin het ons nog altyd van saamspeel gehou, van Trivia tot by kaartspeletjies. Ons vriende, Gerhard en Louisa Hattingh, het ons aan Catan bekend gestel. Ons het daardie jare maklik tot 03:00 in die oggend gespeel. Ons en die Hattinghs het nou al ons eie wisseltrofee, sê sy.”

Adele erken die speletjie kan baie kompeterend raak, maar sy geniet die sosiale verkeer rondom die spel die meeste. Elke Catan spel kan tot so drie ure duur en hulle kuier en braai tussenin. Dit was natuurlik voor die grendelstaat, maar dit stuit hul nie om steeds te speel nie.

Gerhard het uit Potchefstroom laat weet: “Ons kan nie meer saam met ons vriende om die tafel kuier en speel nie, maar Catan het twee apps waarmee jy aanlyn teen jou vriende kan speel.”
Gerhard het al die Catan en Ticket to Ride nasionale toernooi gewen tydens Comic Con 2014 in Johannesburg. Daarna het hy aan die Internasionale Ticket to Ride Kampioenskap in Parys, Frankryk deelgeneem waar hy in die kwarteindrondte uitgeval het. Sy gesin deel sy liefde vir bordspeletjies en speel alles van Catan en Dominion tot Relic Runners, Pompei, Memoir ’44, Balderdash, Alchemist, Caylus en ou gunstelinge soos Uno, Boereplaas, Monopoly en Cluedo.

Gerhard se raad aan voornemende spelers is om saam met vriende wat reeds bordspeletjies het, te begin speel. “Kies ‘n redelik eenvoudige spel wat hulle reeds ken en kan verduidelik. Deel van die pret is om te probeer, en dit volgende keer beter te doen.”

Ineke Swanepoel en haar suster, Marida Steurer van Sasolburg, geniet dit ook om bordspeletjies te speel. Marida sê hulle het in ‘n gesin grootgeword waar daar baie gespeel is. Hulle het tot vir hulself tjekboeke met teenblaaie met hul ma se naaimasjien gestik om te help met Monopoly. Haar lekkerste lekker is om op haar verjaardag saam met ‘n paar vriendinne bordspeletjies by ‘n koffiewinkel te gaan speel. Sy speel ook gereeld haar gunstelinge soos Catan en Dominion aanlyn teen haar vriende. “Dan speel ons op die rekenaars en kuier terselfdertyd op WhatsApp,” vertel sy.

Met Ineke wat op die oomblik by hulle tuisgaan, het die Steurers ook weer meer gereeld as ‘n gesin begin saamspeel. Ineke is die groot bordspel entoesias wat haarself as ‘n “soliede nerd” beskryf. Sy neem gereeld aan toernooie deel en het al die SA kampioenskappe gewen. Sy verkies egter steeds om saam met vriende te speel, want sy hou van die sosiale interaksie, die baie lag en gesels terwyl daar planne beraam word om die volgende skuif te maak. “In hierdie tyd wat ons nie oor en weer mag kuier nie, speel ons sommer op Microsoft Teams saam,” vertel sy. Elkeen het hul besliste voorkeure oor hoe, waar en wat gespeel moet word, maar almal stem saam, as die bordspel-gogga jou eers gebyt het, is ophou speel nie ‘n opsie nie.

Heinrich, Louisa en Gerhard om die Catan bord op ‘n koue Paasnaweek-kamp in Clarens. Agter is Lize Meyer (links) en Carike Hattingh (regs) besig om Ligretto (‘n Duitse kaartspeletjie) te speel. Foto: Adele Meyer
Renate Steurer en Ineke Swanepoel speel Alchemists. Blykbaar maak jy konkoksies van bestanddele soos hoenderpote en paddas om teorieë te publiseer oor die chemiese samestelling van elke bestand.

https://vaalweekblad.com/70518/het-die-bordspel-gogga-jou-al-gebyt/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button