News

‘Beelde is soos boeke’

Só bring FAK hulde aan die vrou

’n Monument om eer te bring aan die dapper Afrikanervroue en -dogters wat die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (ABO) oorleef het, en teruggekom het na hul plase, om dit wat totaal vernietig was te herbou, is verlede week deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) by sy Udolpho Rivierplaas net buite Parys onthul.

Die onthulling van die monument het saamgeval met die viering van Nasionale Vrouedag, en is die handewerk van beeldhouer Jacques Müller. Die monument is gemaak uit sandsteen en brons en getiteld, “Opstaan”.

Müller se beeld is geïnspireer deur die roerende brief van ‘n jong Afrikaner-dogter, geskryf in 1903 aan haar pa in ballingskap. In die brief vertel sy van ‘n emmer koring wat sy gekry het en wou saai sodat wanneer haar pa terugkom, hy die oes sou sien.

Iets hiervan beleef jy ook in wat Georgiana Solomon, ’n Skotse filantroop, opvoeder en kampvegter in Suid-Afrika, in 1905 geskryf het oor die toestand van die Boeregesinne wat sy tydens haar reise op die Transvaalse en Vrystaatse platteland ontmoet het. Sy vertel die aangrypende verhaal van vroue wat hulself in spanne van nege voor ploeë ingespan het om saad in die grond te kry omdat daar geen osse was om die ploeë te trek nie.

Toe sy oor gedeeltes van hierdie geploegde land loop, het dit vir haar gevoel sy loop op heilige grond.
Dis hierdie gedrewenheid wat jy sien in die postuur van die vrouefiguur in Müller se werk – trots, penregop en grasieus in haar beweging, met agter haar rug die ploeg getrek deur ‘n gebroke aarde wat deur vier verskillende klippe voorgestel is op ’n sandsteenbasis.
Die klippe – metafories vir die gebroke Boererepublieke.

Müller beskryf die beeld as simbool van geloof en volharding deur ’n onmenslike onverstaanbare tragedie in ons volksgeskiedenis. “Sonder hulle (vroue) se opstaan sou ons nie vandag hier gewees het nie.”

Van sy grootste uitdagings met die maak van die beeld was juis die gelaatstrekke van die vrou – sterk, vasberade en trots. Ook die fyn werk aan die bronsgietwerk van die ploeg is met meesterlike presiesheid gedoen. Die beeld is binne ’n maand voltooi.

Saam met die Opstaan-monument is ’n herinneringsmuur met die name van die sowat 800 vroue en dogters wat die ABO oorleef het, aangebring.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dié beeld is vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die kontinuïteit tussen die verlede en die toekoms. Hy vergelyk beelde met ‘n boek wat ‘n storie vertel van ’n tyd in drie dimensie. “Dit herinner ons aan waar ons vandaan kom en waar ons is.”
“Die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is.”

Vanjaar is dit presies 120 jaar gelede dat Lord Roberts die verskroeide aardebeleid in Pretoria aangekondig het. Die doel van dié beleid was om die Boeremagte se ondersteuningstelsel en infrastruktuur te vernietig. ’n Uitvloeisel hiervan was dat letterlik duisende vroue en kinders na konsentrasiekampe gestuur is, waar hulle die intense moontlike lyding en leed beleef het.

Die FAK het ter viering van sy 90ste bestaansjaar verlede jaar begin met ’n projek om nuwe monumente te bou. Die eerste was die beeld van dr. NJ van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK, en die eerste hoofleier van Die Voortrekkers wat in Februarie 2019 onthul is.
Daarna het die Penkopmonument gevolg wat op 12 Junie 2019 ook by Udolpho onthul is.

Dié sandsteen-beeld is van ’n jong seun, oftewel penkop, wat tydens die Anglo-Boereoorlog skielik man moes word en noodgedwonge in die oorlog moes veg. Saam met die beeld is twee borde met die name van 2 466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het, en ’n aambeeld onthul. Die aambeeld is ’n simbool van die staal, die daadkrag en harde werk van die na-oorlogse seuns. Die derde beeld of te wel Sorgmonument is op 16 Junie vanjaar in die Irene-konsentrasiekamp in Irene, Centurion onthul.

‘n Sustersbeeld van die vrouebeeld wat by Udolpho onthul is, sal na verwagting in Oktober by die Vrouemonument onthul word, en beeld ‘n vrou uit wat saai. Die beeld is ook deur Müller gemaak.

Naas die Penkop en Vroue beelde by Udolpho, vorm verskeie oorspronklike Anglo Boere-oorlog grafstene van kinders wat so jonk as 2 en 3 jaar oud was toe hulle gesterf het in die oorlog, ook deel van die Verskroeide Aarde Monument-groep.

So ook die grafsteen van Paul Kruger van Rustenburg-graniet gemaak, wat nog van sy plaas afkomstig was.

Langner het gesê dat in ‘n tyd wat Suid-Afrikaners vandag ook ’n eie Verskroeide Aarde beleef, die geskiedenis ons hoop gee dat ons kan opstaan uit ons verlies en kan begin herbou.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button