AfriForum nader Groen Skerpioene oor riool in Mooirivier
AfriForum nader Groen Skerpioene oor riool in Mooirivier

AfriForum se Potchefstroom-tak het die grootskaalse rioolstorting wat tot die besoedeling van die Mooirivier lei by die Groen Skerpioene aangemeld. Dit nadat die JB Marks Munisipaliteit glo geen poging aanwend om dié storting te stop nie.
AfriForum het op 23 Julie ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin hulle die rioolstorting by die pompstasie langs Govan Mbekilaan aangemeld het. Dié storting veroorsaak dat riool deur die vlei vloei en in die Mooirivier beland.
Sover het AfriForum nog geen terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie. Dit het hulle met geen ander keuse gelaat as om die besoedeling by die provinsiale regering en die Groen Skerpioene aan te meld nie.
Volgens Lieb Venter, omgewingsbeampte by die Potchefstroom-tak, word alle boerderyaktiwiteite (veesuiping en besproeiing) tans reeds deur die storting bedreig. “Hierdie storting veroorsaak dat kiloliters rioolwater in die reeds besoedelde Vaalrivierstelsel beland. Dit kan eenvoudig nie geduld word nie,” sê Venter.
“Dit is verskriklik dat die munisipaliteit net eenvoudig nie vir die natuur of inwoners omgee nie. AfriForum kan nie anders as om die saak in ’n ernstige lig te beskou nie.
“Die besoedeling is ’n bedreiging vir inwoners, die OPM Prozesky Voëlreservaat, die vleiland en die Mooirivier. Dit is ook nie die enigste rioolstorting wat tans in Potchefstroom plaasvind nie en daarom kan AfriForum beslis nie die saak daar laat nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die Herald het ook die JB Marks Munisipaliteit gekontak om hul kommentaar in dié verband te kry, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.




