NewsNews

Rooi lappe: Gesin se geloofsbelydenis ná gewapende roof

"Ons redding is van die Here, en daarom sal ons nie vrees nie." Dit was die woorde van Bruce Sinclair Donderdagoggend ná 'n gewapende roof by die gesin se woning in Cillierstraat, Saligna, Woensdagaand 18:45.

“Ons redding is van die Here, en daarom sal ons nie vrees nie.” Dit was die woorde van Bruce Sinclair Donderdagoggend ná ‘n gewapende roof by die gesin se woning in Cillierstraat, Saligna, Woensdagaand 18:45.

Die ironie is dat Bruce ‘n week weg was van die huis en sy vrou en kinders toe alleen tuis was. Hy was skaars 15 minute terug by die huis toe die rowers toegeslaan het.

Twee mans gewapen met ‘n pistool het van ‘n aangrensende erf af vermoedelik oor die omheining gespring. Hulle het die vuurwapen op die Sinclairs en hul vriende gerig waar hulle in die voortuin Bruce se seun se nuwe bakkie gevier het.

Een van die twee mans het die heel tyd voorgegee dat hy ook ‘n vuurwapen het. Die rowers het hulle aangesê om op die grond te lê en toe ‘n horlosie, oorbelle en ringe by hulle gevat asook Bruce se vrou Gretha, se horlosie.

Die mans wou hulle daarna  in die huis indwing, maar toe hulle sien dat Bruce nie gaan saamwerk nie, het hulle die Sinclairs se vriende se kind van net ouer as ‘n jaar gegryp.

Daar is voortdurend gedreig dat hulle sou skiet. Toe die kind skree het hulle die kleintjie teruggegee, maar toe ook gedreig dat hulle Bruce se 15-jarige dogter sal skiet as hy nie saamwerk nie.

Bruce wat ten spyte daarvan dat hy beveel is om stil te bly, die heel tyd hardop in Afrikaans gebid het, vertel dat hy aan hulle gesê het dat as hulle sy dogter sou leed aandoen, hulle nie lewend die perseel sal verlaat nie. Dit het klaarblyklik die mans senuagtig gemaak en het die een die wapen vir die ander gegee om te skiet, maar kon hulle nie sover kom nie.

Bruce het opgespring en in die huis ingehardloop waarop sy dogter die alarm paniekknoppie kon druk.

Die rowers het te voet gevlug met net die selfoon en juwele. Niemand is in die voorval beseer nie.

In die voorafgaande dae voor die roof is verskeie honde in Cilliersstraat vergiftig en was hierdie reeds die derde gewapende roof binne maande in die Saligna-woonbuurt. Die Sinclairs se vriende wat by hulle was ten tyde van die voorval, is sowat vyf maande gelede in een van die gevalle beroof deur gewapende mans nie ver van die Sinclair-woning.

Maar by die ingang van die Sinclair-woning hang daar al ‘n geruime tyd twee rooi lappe – die simbool van die bloed van Christus wat ons bewaar, vertel Bruce. En dit is hierdie geloof wat hom en sy gesin staande hou. Die geloof dat daar ‘n Hoër Hand is in wie hy en sy gesin hul vertroue onvaardelik plaas.

Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) en die Parys Ontwikkleingsforum hou Maandag 5 Oktober om 17:30 ‘n vergadering in die parkie by Cilliersstraat met die oog daarop om ‘n buurtwag as LGV-inisiatief in die Saligna-omgewing vanaf Van Collierstraat, Breëstraat tot by die rivier, op die been te bring. Enigeen is welkom om die vergadering by te woon. Die gedagte is om ook die gebrek aan straatligte in die omgewing aan te spreek, en die buurtwag-inisiatief mettertyd ook na die res van die dorp uit te brei.

* Volgens die polisie was daar Dinsdagaand ‘n soortgelyke voorval van gewapende roof  in Eerstelaan waar twee mans ‘n vuurwapen op ‘n vrou gerig het toe sy na buite is om die honde uit te vat. Sy is teruggedwing in die woonstel waarop die rowers selfone en juweliersware geneem en te voet gevlug het. Die polisie ondersoek ‘n klag van huisroof. Die verdagtes in beide sake is steeds soek.

Volgens die polisie is huisroof steeds ‘n groot probleem in Parys en is syfers heelwat hoer vergeleke met dié van laas jaar.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button