
Vrouedag word die naweek op ‘n besondere manier in Parys gevier wanneer vroue van die dorp op Saterdag 8 Augustus ter viering van Nasionale Vrouedag, hul omgee vir die natuur daadwerklik sal wys wanneer hulle die rivieroewer gaan skoonmaak.
Die skoonmaakaksie word geloods deur die Vaal Action Group (VAG) wat alle vroue (en manne natuurlik) nooi om Saterdag net vir ongeveer 2 ure te kom help om die rivieroewer skoon te maak.
Parys onttrek sy drinkwater direk uit die Vaalrivier. Ongelukkig word gereeld gesien hoe mense plastiek, karton, bottels en ander rommel op die rivieroewer laat wat uiteindelik weer in die rivier kan beland.
Kom geniet die oggend in die buitelug saam met hierdie toegewyde groep en help so ook om ‘n verskil in jou dorp te maak.
Bring net jou eie handskoene, werkskoene en masker, jou glimlag en ‘n positiewe ingesteldheid teenoor die bewaring van die omgewing.
Daar sal om 10:00 by die hangbrug begin word.





