NewsNews

Hof moet sê oor dorp se beurtkrag-stryd

Hoë Hof sit vandag oor aansoek

Die Vaal River Development Association se dringende aansoek om Eskom te verhinder om verder beurtkrag op plaaslike vlak in Parys toe te pas, word vanoggend, Donderdag 6 Augustus om 10:00, in die hoë hof in Pretoria deur regter Collis aangehoor. Die aansoek handel benewens oor die huidige munisipale beurtkrag-situasie, ook met Ngwathe se aansoek vir die verhoging van sy sogenaamde maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening, of te wel die Notifyable Maximum Demand (NMD), wat tot dusver volstrek deur Eskom geweier is.

Die aansoek word gebring teen Eskom, die Ngwathe Munisipaliteit, die nasionale elektrisiteitsreguleerder Nersa, die Vrystaatse premier, die LUR vir COGTA en die minister van energiesake.
Die aansoek word gesamentlik deur die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie onder die vaandel van die Vaal River Development Association gebring. Dit spruit uit wat gesê word Eskom se eensydige afdwinging is van rotasie beurtkrag vir Ngwathe.

Eskom pas tans ‘n limiet van 21MVA toe terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert dié NMD ooreenkoms vergroot het tot 25MVA. Volgens Eskom kan Ngwathe se aansoek om verhoging van die NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer, en Eskom nie tevrede is dat die destyds aanvaarde afbetalingsplan deur Ngwathe nagekom word nie.

’n Gewysigde afbetaalplan is in Desember 2019 deur Ngwathe se hoof finansiële beampte aan Eskom gestuur, wat nie deur Eskom afgekeur, maar ook nie goedgekeur is nie. Gevolglik het Ngwathe Eskom se swye as aanvaarding van die plan vertolk en dienooreenkomstig sy betalings gemaak. Vandaar Ngwathe se redenasie dat hy wel Eskom betaal, terwyl die kragreus voet by stuk hou dat daar nie by die afbetaalplan gehou word nie. Ngwathe het vroeër by monde van sy woordvoerder, mnr. Steve Naale, aan Gazette gesê, sou Eskom die gewysigde plan verwerp het, die onus op die kragreus berus het om hieroor met die munisipaliteit te kommunikeer – iets wat Ngwathe sê nie gebeur het sedert 2019 nie. So ook was daar geen PAJA-kennisgewing van Eskom se kant, sê Ngwathe, om te maan oor betaling van die Eskom-skuld nie. Die ouditeur-generaal het trouens in sy jongste verslag ’n pluimpie vir die Ngwathe munisipale bestuur gehad en gesê “beduidende werk is gedoen om die munisipaliteit se rente op sy agterstallige skuld aan Eskom te verlaag.”

Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld wat nou reeds R1,3 miljard beloop, moet betaal, en die hof by twee geleenthede in die verlede verhoed het dat Ngwathe se krag afgesny word, was daar nog nooit verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie. Die hoofoorsaak van die huidige daaglikse munisipale rotasie beurtkrag in Parys en Vredefort het juis ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop daar in 2008 ooreengekom is. Sou Ngwathe sy ooreengekome MVA oorskry, soos wat die naweek weer gebeur het, skakel Eskom die kragtoevoer vir Parys af om sy enkele werkende transformator by die Eskom substasie in Parys teen oorlading te beskerm. Hoewel Eskom twee transformators by die substasie het wat elk 20MVA kan voorsien, is herstelwerk aan een nodig, wat nie gedoen sal word, aldus die kragreus, tensy Ngwathe sy skuld aan Eskom betaal nie. Vandag se hofverrigtinge sal virtueel via Teams plaasvind.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button