News

Ligte-leesstof: ‘Ek en die Fransman se groot baklei’

Ligte-leesstof: ‘Ek en die Fransman se groot baklei’

Die moeilikheid het Maandagoggend begin toe ek die Fransman wil aanskakel om werk toe te ry. Skop hy toe mos met al vier wiele vas en hoi-hoi kompleet soos ‘n dikbek brulpadda met ‘n keelseer. My humeur wil toe so ‘n bietjie rooi raak, maar ek dink, die ou kêrel is oud, dalk is hy net koud.

Pa is nog die week met verlof en so kom ek darem betyds by die werk. Later die oggend bel ek om te hoor of die Fransman al in ‘n beter bui is.
“Nee”, sê Ma, “jou pa en die buurman het gekyk. Die enjin draai maar daar is nie vuur nie.”
“Dalk is dit die battery,” lig ek my mening.
“Jou pa sê dis nie die battery nie. Jy sal die mense moet bel om die kar te kom haal.”

Bel ek toe maar dieselle motorhospitaal waar Fransman net drie maande terug in intensief gestaan het.
“Ons sal hom môre kom haal,” sê die man heel simpatiek.
Dinsdagoggend moet ek weer van die Nico Bruinette taxidienste gebruik maak.
Hier by 10:00 kry ek die tyding, die Fransman is opgeneem. Vier ure later bel hulle my.
Ek hoor die man is nie heeltemal so simpatiek soos die vorige dag nie.
Hy vertel my vyf minute lank hoe en waar en met wat hulle vir Fransman getoets het, maar die fout kon hulle nie kry nie.
Die kant van die lyn raak ek heel benoud oor die Fransman dan nou ‘n onopspoorbare virus het.
En toe slaan daai man die uitklophou en ek kan sommer hoor hy dink ek is dom. “Nee, en toe ons nou weer probeer aansit, toe sien ons die kar se petrolliggie flits.

“Toe gooi ons petrol in en nou ry hy weer en o ja, jy skuld ons R980!”
Die man wou nie eens luister toe ek probeer verduidelik dat die simpel ding se gerekenariseerde petrolthingymabob moes vasgehak het nie.
Die laaste geel streep voor die rooi liggie aankom was nog met my toe ek Sondag gekyk het.

“Wat sê hulle van jou kar?” koor die jongklomp in die kantoor.
“Daar was nie petrol in nie,” brom ek terug.
Gee my nie kans om te verduidelik van die vashak nie. Lag te lekker.

Ek bel huis toe om die nodige reëlings te tref vir Fransman om gehaal te word. “Wat was fout met die kar?” vra ma. “Petrol” sê ek, “maar die ding…” Kry nie my storie klaargemaak nie, ma lag te veel.
Pa kom haal my met die Fransman. Maar pa het seker al klaar gelag, want toe hy my gesig sien, sê hy “die rekenaar het seker vasgehak.”

En dis hoekom ek en die Fransman nie op die stadium met mekaar praat nie. Om die waarheid te sê, ek dagdroom van hoe ek hom laat vergruis tot ‘n blou blikkie metaal en dan in ‘n splinternuwe, baie jonger Yankee wegry!

https://vaalweekblad.com/69537/ligte-leesstof-ek-en-die-fransman-se-groot-baklei/

Gerda Bruinette

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button