Entertainment

Lees saam: Die verhaal van Renostervoël en Buffel

Lees saam: Die verhaal van Renostervoël en Buffel

Die liefde vir lees is een van die belangrikste en kosbaarste vaardighede wat jy jou kinders kan leer. Daarom het Parys Gazette hande gevat met die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog om voortaan gereeld tweeweekliks ‘n storie te publiseer wat kinders, maar ook ouers sam met ons kleiner kinders kan lees. Jy kan daarom voortaan uitkyk vir hierdie stories op Saterdae en Sondae op Parys Gazette se webtuiste. Hier is vandag se storie:

 

Die verhaal van Renostervoël en Buffel

 

In die ou dae het Renostervoël ’n heldergeel snawel gehad. Hy het in ’n klein hutjie in ’n lappie lang gras gewoon. Hy het elke dag sy hut uitgevee voordat hy koers gekies het na die gras om sy gunstelingkos te gaan vang. Saans het hy dan in sy nesbed geklim, met sy maag vol groen sprinkane, vlieë en wriemelende wurms.

As enigiemand dit naby die lang gras sou waag, het Renostervoël opgevlieg en op hulle geskree. Hy het hulle gepik en verwilder totdat hulle weggegaan het. Hy het daarvan gehou om alleen te woon, en wou dit nie met enigeen deel nie.

Op ’n dag, terwyl Renostervoël insekte soek, hoor hy ’n diep gerammel, soos die geluid van donderweer in die heuwels, en iets keer die son weg.

“Wat op aarde?” skree Renostervoël en vlieg op uit die lang gras om beter te kan sien.

’n Groot, swart dier met sterk horings loop deur die lang gras.

 

 

“Hallo,” sê Buffel. “Ek het weke laas iets geëet. Hierdie lang gras is presies wat ek nodig het. Kan ek maar daarvan eet?”

“Nee! Gaan weg!” skree Renostervoël.

“Wel, ek sal doodgaan as ek nie iets eet nie. Dit het maande laas gereën en hierdie is die enigste lappie lang gras hier rond. Kan ek asseblief daarvan eet?”

“Het jy my nie gehoor nie? Gaan weg!” sê Renostervoël, en vlieg om Buffel se kop.

“Maar jy eet nie eens gras nie,” sê Buffel. En hy probeer weer: “Ons kan die gras deel.”

“Ek deel nie! Dis myne! Myne! Myne! Skoert nou!” skree Renostervoël.

Buffel se voorkop trek op ’n plooi en sy oë trek op skrefies. Hy is so kwaad dat sy stert heen en weer swiep en ’n hard klapgeluid maak toe dit teen sy kruis klap. “Wel, as jy onbeskof gaan wees, gaan ek dit in elk geval eet. Ek eet gras, dis wat ek doen, en ek is honger, so hier GAAN ek, jou ongepoetste voël,” sê Buffel en mik na die naaste graspol.

“Jy sal dit nie waag nie!” gil Renostervoël.

“Hoe gaan jy my keer? Kyk hoe groot is ek. En omdat jy so onbeskof is, gaan ek eet en eet en eet totdat ek genoeg gehad het.” En met ’n harde KNARS! KNARS! begin Buffel eet.

Dit maak Renostervoël so kwaad dat die punt van sy snawel helderrooi word. Renostervoël vlieg om Buffel se kop en skree en gil en gaan tekere, maar Buffel hou net aan met eet. Gou is al die lang gras weg. Om dinge erger te maak, trap Buffel met sy groot hoef reg deur die dak van Renostervoël se hut.

Renostervoël vlieg tot op Buffel se rug en begin sy vel pik.

“Dit gaan nie werk nie,” sê Buffel. “My vel is baie dik. Selfs Leeu het my al met sy skerp tande probeer byt, en ek het weggekom. Jy’s te klein, Renostervoël. En jy’t gekry wat jy verdien het. Ek was bereid om te deel.”

“Wel, dan’s dit hoe dit is,” sê Renostervoël, en raak skielik stil. “Ek was net kwaad en onbeskof omdat dit my huis was. Nou het ek nie meer ’n huis of kos nie – al daardie heerlike groen sprinkane, vlieë en wriemelende wurms wat in die lang gras gewoon het, is weg! Alles is weg.”

Buffel kyk om na die huilende Renostervoël, en dan na die kaal stuk grond en die stukkende hut. “Ek’s baie jammer dat ek jou huis vernietig het,” sê hy, “maar dalk kan ek jou vergoed daarvoor. Jy sien, ek het ’n probleem met insekte. Kyk maar net na my rug. Daar is altyd hopeloos te veel insekte wat oral aan my hang en oor my kruip. Jy kan hulle eet, en dit sal regtig lekker wees as iemand my uiteindelik kan help om van hulle ontslae te raak.”

Renostervoël kyk op en af langs Buffel se rug, en sien al die klein insekte wat aan Buffel se vel vasklou. Die voël se maag grom, maar die idee om vir Buffel ’n guns te doen na alles wat gebeur het, maak Renostervoël net kwater en kwater. Sy geel snawel word rooier en rooier.

“Eers eet jy al my lieflike gras op!” skree Renostervoël. “Dan verwoes jy my huis. Jy het sowaar met jou groot hoef die dak stukkend getrap! Nou wil jy hê ek moet jou ’n guns doen en al hierdie insekte opeet!” Hy loop op en af op Buffel se rug, en pik aan die insekte terwyl hy praat. “Jy is vermetel, Buffel! Asof ek jou sal help,” sê hy met sy mond vol insekte.

 

 

Buffel haal net sy skouers op en loop verder, met Renostervoël wat op sy rug ry en bly skree en insekte eet. En dit doen hulle tot vandag toe, maar Renostervoël het nooit vir Buffel vergewe nie, en sy geel snawel het vir altyd rooi gebly.

 

Hierdie storie is goedgunstiglik voorsien deur die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog. Om hierdie storie ook in ‘n ander SA taal te lees, of vir ander geletterdheids aktiwiteite, leeswenke en meer stories wat jy saam met jou kinders kan geniet, besoek www.nalibali.org of kyk ook op Facebook of Twitter by @NalibaliSA

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button