NewsNews

Verlore kat weer terug na hy veras is

Verlore kat weer terug na hy veras is

Susan Cilliers en Katter na hy weer teruggekom het huis toe. Foto: Verskaf

ʼn Joernalis glo nie sommer aan wonderwerke nie, maar as jou kat wat jy dood in die veld opgetel het en laat veras het skielik weer verskyn, dink ʼn mens twee keer.

Susan Cilliers, ʼn senior joernalis van Netwerk24, moes twee keer kyk of dit waar is toe hulle kat, na  sy dood, sy teenwoordigheid in die huis met ʼn lang miaau aankondig. Katter was dan dood! Susan het self op sy liggaam in die veld afgekom!

Dié ongelooflike gebeurtenis het Susan en haar ma, Marilie steeds in vervoering. Hulle kat het twee weke gelede net verdwyn. En wat maak jy as jou geliefde kat wat al 15 jaar deel is van jou lewe skielik verdwyn? Jy treur en jy soek. Jy soek op paaie, geliefde plekke en alle platforms.

Nadat hulle Katter op ʼn koue wintersoggend vroeg in Julie nie weer gesien het nie, het hulle die volgende dag op sy geliefde plekke in die tuin na hom gesoek. “Ons het boodskappe en foto’s op die buurtwag WhatsApp-groep, Facebook, en plaaslike dieregroepe gepos, in die buurt rondgery en op die Carletonville- en Ventersdorp pad gesoek en selfs ʼn advertensie in die Potchefstroom Herald geplaas”, vertel Susan.

Katter lê weer veilig opgekrul in ‘n nuwe snoesige kombers en as hy wakker is,volg hy Susan oral.

Dis eers nadat sy ʼn bebosde oop erf na aan hulle meenthuis gefynkam het toe sy op die karkas van ʼn grys en wit kat afkom wat presies net soos haar Katter gelyk het. “Ek kon nie baie deeglik die karkas onderdoek nie, want dit het vreeslik gestink, maar ek was seker dit was ons kat. Hy het dieselfde vlekke op sy lyf gehad, wit pootjies en selfs die vlekkie op die neus wat hom  so uniek gemaak het”, sê sy.

Susan het die dooie kat in sy gunstelingkombersie toegedraai, in ʼn boks gesit en na die veearts toe geneem om hom te veras. Die kostes van die verassing het R1 300 beloop en sy het na twee weke die mooi verpakte as teruggekry. Dis toe die dag daarna wat Katter sy opwagting maak. Moeg, vol stof en honger maar baie tevrede om weer terug te wees. Die Cilliers vermoed Katter is opgelaai en iewers afgelaai en dat hy na weke sy pad weer teruggevind het.

Hulle is só dankbaar dat hulle snorbaardkind by die huis is, dat hulle met liefde die as gratis vir die oorspronklike eienaar van die veraste kietsie wil skenk. Diereliefhebbers wat ʼn grys en wit kat in die Van der Hoffpark omgewing vermis, kan gerus vir Susan Cilliers skakel by 083 655 1297.

Related Articles

Back to top button