News

Hy’t gevra…en sy’t ‘ja’ gesê

Hy’t gevra...en sy’t ‘ja’ gesê


Met ’n ruiker proteas in die hand is Ri-ette van Barneveld deur haar seun Jaco, die kerk ingebring. Voor die kansel het die 81-jarige Gert Roux sy stralende bruid ingewag.
Saam is soveel meer, want twee vaar beter as een, was die boodskap van ds. Ian Jonker uit Prediker, toe hy gesê het dat ’n driedubbele tou nie maklik breek nie. ’n Tou van liefde wat twee mense bind aan die liefde van God.
Net ’n handjievol mense het die bruilof bygewoon, uitmekaar versprei op die kerkbanke. Maar vir Gert en Ri-ette was dit ’n volmaakte oomblik daar voor die kansel in die NG-gemeente Parys-Oos.
Die twee het mekaar by Najaarsrus ontmoet waar albei inwoners is, en Gert die sang in die eetsaal lei. Net daar het hy Ri-ette raakgesien en kort voor lank was die spreekwoordelike koeël deur die kerk.

Na ’n jaar se vlerksleep het hy gevra, en sy’t gesê ‘ja’. Danksy die personeel van Najaarsrus en die NG-gemeente Parys-Oos het grendelgrense nie ’n stokkie gesteek voor hul trouplanne nie, en is hulle direk na die huweliksbevestiging terug na die tehuis waar hulle vir twee weke in self-isolasie in hul woonstel sal wees ter wille van hul eie en ander inwoners se veiligheid, omdat tehuise vir bejaardes steeds beweging beperk.

Vir twee pasgetroudes is dit egter ’n wittebrood om van te droom.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button