Entertainment

Oor skaatslesse en val-in-styl

Tot so onlangs as 2019 was sport nog hoog op almal se kyk, doen en geselslysies. Dit was natuurlik voordat Covid-19 die hele wêreld vir ‘n ses geslaan het. Maar, ek onthou nog die Winter Olimpiese Spele wat in Februarie 2018 in PyeongChang gehou is.

Ek as aspirant skaatser in 1977.

Baie van die winter sportsoorte was vir my erg volksvreemd, maar het darem vir hoogs vermaaklike ure voor die TV gesorg. Destyds het ek na meer as ‘n week van Winter Olimpiese Spele kyk, die volgende gevolgtrekkings en afleidings gemaak…

Vreemde sportsoorte word op ys en sneeu beoefen. Ek vermoed die gebrek aan sonlig het iets daarmee te doen.

Curling het niks met krulhare uit te waai nie, maar wel met besems en gepoleerde klippe. Die mense wat die beste vee, wen nie noodwendig nie.

Lugi is ‘n sport wat lê-lê gedoen word. Voete eerste teen ‘n geweldige spoed. Daar is dubbels ook. Dan lê twee mense bo-op mekaar en gly teen die hoogste versnelling om vreesaanjaende draaie. Net een se voete kan gesien word, ek weet steeds nie waar is die onderste ou se bene nie.

Skeleton is ‘n sport waar mens op jou maag lê en kop eerste die steiltes afvoeter.

Freestyle Skiing: Aerials kan in Afrikaans vertaal word met Val-in-Styl. Die geheim is om soveel as moontlik in die lug te spin, te draai en mal te gaan alvorens jy die grond tref. Die wat op hul voete land, kry ekstra punte.

Ice Hockey is gevaarlik.

In Figure Skating praat hulle aanmekaar van dubbel en driedubbele tone. Rêrig! Ek het ure gekyk, van die paartjies tot by die dansnommers, maar het elke keer gemis wanneer hulle tone wys. Weet nie hoe die kommentators die skaatsers se tone sien nie, maar hulle doen.

‘Quads’ is belangrik vir die manne in Figure Skating. As hulle nie ‘n ‘quad’ doen nie, is hulle nie in tel nie. Ek weet nou nog nie wat is ‘n ‘quad’ nie, dit gebeur te vinnig.
In Figure Skating verloor die mense punte as hulle val, en dit gebeur nogal baie. Niemand verstaan regtig hoe die puntestelsel werk nie, maar almal weet hulle moet ‘smile and wave’.
Gewilde skaatsers word met teddiebere gegooi as hul klaar geskaats het. Jong skaatsertjies tel die bere op. Hulle word blommemeisies genoem, maar daar is nie ‘n blom of ‘n bruid in sig nie.
Die manne in Figure Skating is almal super sterk, hulle tel die dames op en gooi hulle dat hul doer trek sonder om eens moeg te lyk.

Ek verstaan steeds nie hoe kry hulle dit reg om so aanmekaar in die rondte te tol sonder om daarna totaal rigtingbeduiweld en dronk te wees nie.

Al die ure se figuurskaats-kykery het my laat terugdink aan die dae toe ek ook Saterdag na Saterdag op die ysskaatsbaan was.

Weliswaar met minder talent en totaal ongrasieus. Dit was in 1977. Ek was nog nie in die skool nie, so ek kan nie veel onthou nie. Ek onthou wel die reuk van die ysskaatsbaan. Die water wat op die ys blink. My groen Adidassak met my skaatse in. Die wit skaatse met die geel aan die binnekant was vir my so mooi. Die geelgoue handdoek met die swart rand waarmee ek die lemme afgevee het. My pa wat sukkel om my regtervoet se skaats aan te kry.

Self kon ek dit nooit aan en vas kry nie. Die tipiese laat 70s popmusiek waarop ons geskaats het. En dan na die lesse en die oop-vir-almal-sessie, die warm pakkie met die vienna en slap chips, gelaai met die sout en asyn wat lewe terugbring in my koue hande en die vaal honger kol van ‘n hele oggend op die ys laat wegsmelt. Spring en tol en toertjies doen kon ek nie, maar skaats die kon ek darem. Ek onthou die groot kokkedoor daar het my selfs eenkeer vir ‘n dans gevat om die baan. Ek was hoogs beïndruk. Was te klein om te weet hoekom ons opgehou het. Maak ook nie saak nie, want na meer as vier dekades droom ek soms ek is weer terug op die ys. Maar net soms. Net as ek slaap.

Daar is geen manier wat ek myself ooit weer op daai dun lemme sal kan balanseer nie!

Illustrasiefoto: In figuurskaats moet jy ook leer hoe om met styl te val.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Oor skaatslesse en val-in-styl

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button