NewsNews

Regsaksie oor kragchaos

Regsaksie oor kragchaos

Terwyl daar Donderdag, 16 Julie steeds geen oplossing vir Parys se kragkrisis gekry kon word na nog ‘n rondte samesprekings tussen die munisipaliteit en Eskom nie, is die Vaal River Development Association (Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum) en Parys Gemeenskaps Aksie gesamentlik besig met regsaksie teen die Ngwathe Munisipaliteit en Eskom.

Hofstukke is reeds Maandag gefinaliseer en uitgereik deur die Hoë Hof in Pretoria, en sou Dinsdag elektronies bedien word aan Eskom, Ngwathe, die Vrystaatse premier, Nersa, COGTA, en die Minister van Energie Sake. Sou die partye dit wou betwis moet hulle voor Vrydag antwoord. Daar word beoog om die saak moontlik so gou as 4 Augustus dalk voor die hof te hê tensy ‘n skikking voor die tyd tussen die partye bereik kan word.

Die Vaal River Development Association (Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum) se aansoek word ondersteun deur die handtekeninge van nagenoeg 5 500 inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville, en het 50 plaaslike sakelui ook hul beëdigde verklarings ter ondersteuning van die saak gegee.

Die dringende aansoek vir ‘n hofinterdik is om die Ngwathe Munispaliteit en Eskom te dwing om nie beide nasionale en munisipale beurtkrag toe te pas nie, en Eskom te forseer om nie die munisipaliteit te dwing om rotasie beurtkrag toe te pas nie.

Die regsaksie teen Eskom en Ngwathe word gesamentlik gedryf deur die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum, en Parys Gemeenskaps Aksie, onder die vaandel van die Vaal River Development Association (Edms) Bpk. Die regslui wat namens die groep sal optree is advokaat Danie Wijnbeek en prokureurs Andreas Peens, wat ook Harrismith se saak dryf, en Lou van Wyk as prokureur van rekord.

Van Wyk het ook in 2014 as prokureur opgetree vir die Parys Ontwikkelingsforum wat toe ook die munisipaliteit hof toe gevat het oor gebrekkige dienslewering.

Die Hoë Hof het destyds, op 23 Oktober 2014 by monde van regter C.H.G. van der Merwe, ’n bevel ten gunste van die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum uitgereik om die Ngwathe Munisipaliteit te dwing om sy verantwoordelikheid vir dienslewering aan sy inwoners na te kom.

Naas die opskerp van dienslewering is die fokus van die forum toe ook gewees om die munisipaliteit te dwing om sy
finansiële beplanning reg te ruk, infrastruktuur op te knap, en inkomste invordering effektief te doen. Aspekte waarin daar tot nou steeds nie vordering gemaak is nie.

Die bevel wat toe in die Hoë Hof bekragtig is, is destyds as bloudruk vir soortgelyke sake teen munisipaliteite beskou. Die bevel was vir minstens vyf jaar van krag, en bly steeds geldig tensy dit
deur ’n ander hofbevel ter syde gestel sou word, wat nooit gedoen is nie.

Soos ook nou die geval, het die hofaksie gevolg nadat onderhandelings en gesprek om die implementering van ‘n omkeerstrategie vir die munisipaliteit af te dwing, niks
opgelewer het nie.

Van Wyk sê dit is juis hierdie bevel wat destyds in die Hoë Hof uitgereik is, wat die party se saak teen Eskom en Ngwathe sal
versterk. Hy sê sou ’n interdik slaag, sal dit ook opgevolg word deur verdere toepassing en uitbreiding van die Hoë Hof bevel van 2014.

’n Petisie ter ondersteuning van die regsaksie is reeds ’n geruime tyd by verskeie besighede in Parys beskikbaar en is meer as 5 000 handtekeninge reeds op
die petisie. Die publiek moet egter kennis neem dat hoewel verskillende bankrekeningbesonderhede deur die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en die Parys Gemeenskap Aksie gegee is, alle fondse wat in die twee afsonderlike rekeninge deur die publiek inbetaal is, saamgevoeg word vir die regsaksie, en het beide die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie die versekering gegee dat daar nie verwarring moet wees oor duplikasie van aksies nie.

Hoekom munisipale rotasie beurtkrag?
Eskom het tot nou toe volstrek geweier om die maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening aan Ngwathe te verhoog, tensy Ngwathe sy uitstaande rekening
betaal, of omskakel na voorafbetaalde aankope met ‘n deposito vir drie maande se verbruik. Dit beteken vir Ngwathe dat R77 miljoen onmiddellik betaalbaar is.

In 2011 toe die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum met sy aksie begin het, was Ngwathe se uitstaande Eskom-rekening R32 miljoen en het Eskom en Ngwathe oor die afgelope nege jaar toegelaat dat die rekening eskaleer tot ‘n enorme R1,2 biljoen plus. Hoewel daar aanmanings van Eskom se kant was, is geen daadwerklike aksie geneem nadat die hof by twee geleenthede verhoed het dat die krag afgesny word.

Die hoofoorsaak van die munisipale rotasie beurtkrag het juis ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop daar oorspronklik in 2008 ooreengekom is.

Eskom pas tans ‘n limiet van 21 KVA toe, terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert dié ooreenkoms vergroot het tot 25 KVA.

Volgens Eskom kan die aansoek vir verhoging van die sogenaamde Notifiable Maximum Demand (NMD) nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en Eskom nie tevrede is dat die destydse aanvaarde afbetalingsplan nagekom word nie.

Sedert verlede Vrydag het Eskom landwyd begin beurtkrag toepas en is Parys geraak deur beide Eskom en munisipale rotasie beurtkrag wat op die munisipaliteit afgedwing word om die enkele werkende Eskom transformator by Eskom se substasie in Parys te beskerm teen oorlading. Hoewel Eskom twee transformators by die substasie het wat elk 20KVA krag kan voorsien, is herstelwerk aan een van die transformators nodig, wat nie gedoen sal word aldus die kragreus, tensy die skuld betaal word.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button