NewsNews

Haar geloof het haar gehelp om van virus te genees

Haar geloof het haar gehelp om van virus te genees

Valerie de Bruyn het op dieselfde dag wat haar ma, Gertruida Sally dood is, die slegte nuus ontvang dat sy Covid-19 onder lede het. Dit het als baie vinnig gebeur.

Gertruida (75) het aan die begin van die inperkingsperiode by Valerie (54) en haar man, Nicky Oosthuyzen, in Carletonville gaan woon en hulle het al die voorsorgmaatreëls gevolg om nie die virus op te doen nie. “Ons het tuis gebly en net ek en my man het uitgegaan om kosvoorraad aan te koop. My ma was een dag saam met my om ‘n tweedehandse tafeltjie vir haar aan te koop, maar sy het handskoene en ‘n masker gedra en die plek waar die voorraad uitgestal was, was buite en nie in ‘n gebou nie”, vertel Valerie.

Gertruida is gewoond daaraan om elke jaar rondom die wintertyd griep te kry. “Sy het aan die einde van Meimaand by die huis uitgegaan in die koue en die volgende dag grieperig gevoel. Valerie het haar ma na drie dae dokter toe geneem sodat sy voorskrifmedisyne kon kry om haar simptome te verlig. Die dokter het egter ook daarop aangedring dat hul albei vir Covid-19 getoets word.

Die volgende dag is Gertruida dood. Valerie het die dokter gebel om te sê dis nie meer nodig dat die toetse gedoen word nie – haar ma het gesterf. Die dokter het later die middag teruggebel om Valerie mee te deel dat hul albei se toetse positief is. “Ek was verstom. Ek weet nie waar ons dit kon gekry het nie, want ons het voorskrifte gevolg, behalwe dat ek nie die kruideniersware wat ek aangekoop het ontsmet het nie, sê sy.

Die dokter het Valerie dadelik laat opneem in die Mediclinic hospitaal in Potchefstroom omdat sy ʼn diabeteslyer is. Haar seun, Johan moes die reëlings vir sy ouma se begrafnis in Johannesburg tref en haar man, Nicky, het in selfisolasie by die huis gebly omdat sy simptome nie so erg was nie.

Valerie het van die begin af besluit om positief te wees. “Ek, my kinders en my man is baie gelowig. Ek het vrede gehad want ek het geweet die Here is saam met my ten spyte van dat die feit dat ek ʼn diabeteslyer is. My familie en vriende het gebedskettings gevorm om vir my voorbidding te doen. Ek glo in Matteus 18:20 waar Jesus sê “… want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde”, sê Valerie.

Sy kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike hospitaalpersoneel wat haar bygestaan het in die hospitaal nie. “Toe ek opgeneem word in die waaksaal het die personeel gehoor van my ma se dood. Hulle het vir my ʼn bemoedigingsbriefie geskryf waarin hulle gesê het dat hulle baie mooi na my sal kyk. Amper elke keer wanneer die susters my gebad het, het hulle gevra of hulle vir my kan bid”, vertel Valerie.

Valerie het asemnood gehad, maar dit was nie nodig dat sy aan ʼn ventilator gekoppel word nie. Sy het suurstof ontvang en was só siek dat sy by tye nie geweet het waar sy is nie. Van al die simptome wat sy ervaar het, was die hoofpyne vir haar die ergste. Sy was vier weke in die hospitaal en het eers ʼn week voor sy op 27 Junie ontslaan is, begin beter voel.

Valerie haal haar hoed af vir alle mediese personeel wat bereid is om pasiënte met Covid-19 te behandel. Sy wil drs. Wybrand Krog en Adele Steyn asook haar personeel by die werk vir hul ondersteuning bedank. Valerie en haar man is nou virusvry en sy sterk verder by die huis aan. Sy wil mense aanmoedig om alles in hul vermoë te doen om die virus vry te spring. “Pak jou kruideniersware op die vloer uit en saniteer dit voor jy dit in die kas wegpak. Onthou ook om jou motorsleutels gereeld te saniteer”, waarsku sy.

 

Related Articles

Back to top button