BlogsCommunityEntertainmentOpinionsPhoto Galleries

Help om insekplae in toom te hou

Lawaaierig, maar ‘n handige plaagbestryder. Dit is die Hadeda/Hadeda Ibis (Bostrychia hagedash), een van vier Ibis spesies wat in Suid-Afrika aangetref word en een van drie wat in die Vredefort Koepel gesien kan word. In die vorige twee artikels het ons die Skoorsteenveër/Sacred Ibis en die Glansibis/ Glossy ibis behandel.

Lawaaierig, maar ‘n handige plaagbestryder. Dit is die Hadeda/Hadeda Ibis (Bostrychia hagedash), een van vier Ibis spesies wat in Suid-Afrika aangetref word en een van drie wat in die Vredefort Koepel gesien kan word. In die vorige twee artikels het ons die Skoorsteenveër/Sacred Ibis en die Glansibis/ Glossy ibis behandel.

Die Hadeda is ‘n groot gryserige voël met kortirige bene en ‘n tipiese lang, krom ibis snawel. Die kop is grys met ‘n wit streep van die basis van die snawel oor die wang tot agter die oog. Die rooi rif op die bokant van die snawel is diagnosties van die Hadeda. In die sonlig het die vere op die vlerke ‘n metaalagtige pers-groen skynsel.

Die Hadeda is die mees algemene een van die drie in ons omgewing en deesdae ‘n algemene besoeker in byna elke dorps-of-voorstedelike tuin, ook in parke en sportvelde. Met sy luide trompetagtige ha-ha-ha-de-da roep, wat baie mense irriteer en ver deur die lug dra, verraai hy altyd sy teenwoordigheid. Sommige voëlspesies brei dikwels hulle verspeidingsgebied uit deur met tyd na nuwe gebiede te beweeg. Die Hadedas het oor die afgelope verskeie dekades, hulle gebied weswaarts uitgebrei oor die hele lengte van die Vaalrivier en verder wes langs die Gariep tot by Augrabies.

Hulle word gewoonlik in pare of in groepe gesien waar hulle op grasperke of velde soek vir kos deur met hulle lang krom snawels in die nat, sagte grond te boor.  Hulle eet ‘n verskeidenheid insekte en erdwurms tot klein reptiele en sal soms die honde se kos uit hulle bakke steel. Hadedas het goed aangepas by die mens se omgewing en is so mak dat mens tot redelik naby aan hulle kan beweeg. Wanneer hulle egter bedreig voel sal hulle in protes met ‘n groot lawaai wegvlieg. Ook wanneer hulle vroeg oggend hulle slaapplekke verlaat om te gaan kos soek en in die aand teen skemer terugkeer, gaan dit gepaard met hulle luide geroep wat ver deur die stil lug dra.

Die Hadeda se broeiseisoen is van Julie tot Maart. Hulle nes is ‘n redelike slordige platvorm van stokke omtrent 45cm in deursnee en 25cm dik, gewoonlik op ‘n horisontale tak in ‘n boom 3 – 12 meter bo die grond. In die middle van die platvorm is die broeiholte wat met sagte materiaal uit gevoer word. Dikwels word dieselfde nes jaar na jaar vir ‘n aantal jare gebruik.

Twee tot vier olyfkleurige, gespikkelde eiers word gelê en inkubasie neem 25 – 28 dae. Albei lede van die broeipaar los mekaar gereeld af gedurende hierdie tyd. Die kuikens word deur albei ouers gevoer vir 35 – 37 dae, waarna hulle die nes verlaat en na ongeveer 50 dae is hulle heeltemal onafhanklik.

Related Articles

Back to top button