News

Parys Museum het jóú nodig

Die museumgebou soos ons dit vandag ken was destyds die dorp se landdroshof.

Oop harte en gewillige hande het verlede week gesorg dat die perseel van die Parys Museum na verskeie pleidooie uiteindelik omhein kon word. Dit nadat haweloses en vandale reeds vir ‘n geruime tyd groot skade aanrig aan dié historiese gebou wat tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Die tydelike oplossing is moontlik gemaak danksy mense uit die gemeenskap wat hul harte oopgemaak het om hierdie erfenis met sy ryk geskiedenis van die dorp en sy mense, te bewaar.

Die materiaal is geskenk deur die Sieberhagen-familie, terwyl Jaco van Parys Nutsman sy arbeid gratis aangebied het om die heining op te sit.
Jaco het voorheen ook al gehelp om die museumgebou te verf en skoon te maak, en is daar selfs tuin gemaak en water aangelê. Maar met geen hulp van die regering of munisipaliteit om die gebou in stand te hou nie, is die behoud van die museum en sy inhoud nou alleenlik op die gemeenskap aangewese. Vir jare al word daar gesukkel om fondse bymekaar te kry om die museum permanent oop te hou vir die talle besoekers wat hier kom inloer wanneer hulle ’n draai in die dorp maak.

Nou dat museums die groen lig gekry het om onder vlak 3 regulasies te kan heropen, is die hoop steeds dat ook dié museum danksy gewillige en toegewyde vrywilligers soos Diane van Nieuwenhuyzen, wat nou weer die skade aan die museumgebou onder mense se aandag gebring het, weer binnekort kan oopmaak.

Jaco het aanbeveel dat ’n palissade heining meer effektief sal wees, maar hiervoor sal die materiaal minstens R15 000 kos. Hy is bereid om die arbeid weer gratis te voorsien. Al wat kort is die materiaal.

Jaco en ander inwoners het reeds hul bydraes vir die projek belowe, terwyl ander soos Willie Hallaby (sr.), Parys Sekuriteit, Ras Botma en Warren Floris op ander maniere gehelp het tydens die afgelope week se skoonmaak- en heiningopsit- inisiatief. Selfs die burgemeester het die munisipale bestuur vir hulp genader. Afgesien van beligting op die perseel, is daar ook dringende herstelwerk van die dak en vensters nodig.

En nou is die hek ook in plek. Destyds was Parys se polisiestasie aan die agterkant van die gebou, maar is nagenoeg 60 jaar gelede gesloop. Die museumgebou was die destydse landdroshof vir Parys. Inderdaad ‘n belangrike deel van die dorp se geskiedenis. 

As jy kan help, kan jy ‘n bydrae maak deur ’n elektroniese betaling in die volgende rekening te maak: Parys Mueum, FNB, rekeningnommer 62769589600, takkode 230736.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button