NewsNews

Regering ‘neem’ kleuterskool sonder ‘n woord

Die feit dat jy deesdae vir byna enige gebeurlikheid op jou hoede moet wees, is die afgelope week deur ‘n ongewone probleem vir die SAVF in Carletonville bewys.

Volgens mnr. Johan Jooste, wat as tesourier in die SAVF se dagbestuur dien, is hy onlangs getaak om na die geld wat die organisasie aan versekering op sy eiendom betaal, te kyk. Hy het as deel van dié werk die titelakte vir die SAVF se Pikkie Kleuterskool in Carletonville van die Aktekantoor in Pretoria verkry.
Groot was Jooste se verbasing toe hy sien dat die eienaarskap van die eiendom waarop die kleuterskool geleë is, in 2015 na die staat oorgedra is. Die SAVF betaal elke maand duisende aan versekering vir die terrein, asook erfbelasting en ander tariewe aan die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit.
Jooste, ‘n bekende prokureur in die dorp, vermoed dat die verkeerdelike oordrag van die eiendom na die staat “’n fout deur ‘n oorgretige staatsamptenaar” was wat vermoedelik gedink het dat dié erf deel van Laerskool Dagbreek is.
Hoewel die Suid-Afrikaanse Skolewet (No 84 van 1996) wel voorsiening gemaak het dat die eienaarskap van staatskole en hul eiendom na die staat oorgedra is, is dié wetgewing nie op ‘n privaat kleuterskool soos Pikkieland van toepassing nie. Die enigste ander wetgewing wat die regering tot op hede kan gebruik om die eienaarskap van eiendom oor te neem, die Onteieningswet (63 van 1975), stipuleer ook dat daar eers ‘n lang proses gevolg moet word voor daar tot só ‘n stap oorgegaan mag word. “Dit wys net watter vreeslike dinge deesdae kan gebeur sonder dat jy van enige iets bewus is. ‘n Mens sal beslis meer op jou hoede moet wees,” het die SAVF se streekbestuurder, me. Suzette Oosthuizen, na afloop van die voorval gesê.
Volgens haar het die SAVF se hoofkantoor in Pretoria reeds hul prokureurs opdrag gegee om die probleem op te los.
Die Herald het ook die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gevra of hulle nie veronderstel is om dit agter te kom as die eienaarskap van ‘n eiendom verander nie.
“Dit bly altyd die verantwoordelikheid van ‘n nuwe eienaar om ‘n rekening by die munisipaliteit oop te maak, of van die verkoper dat dit gedoen moet word,” het ‘n munisipale woordvoerder egter geantwoord.

https://carletonvilleherald.com/34747/regering-neem-kleuterskool-sonder-n-woord/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button